
"Frustrerend", sê 'n Suid-Kaapse boer, " 'n oestydtradisie", sê 'n ander, maar almal hoop dit hou gou op sodat die graan kan afdroog en hulle kan oes. Allmal sluit die gesprek af met hoe goed die reën vir die weidings is.
Mnr. Jan-Hendrik Joubert van die plaas Uitsig, Riversdal, sê hulle het Donderdag, 16 Oktober, net ná die middag 20 mm reën gemeet. Hy het reeds twee derdes van sy gars geoes en net meer as die helfte van die kanola. Die koring was nog nie reg vir oes nie, maar sal ook nie baat vind by die reën nie. Hulle het einde September 50 mm reën gehad en erg onder die hael deurgeloop. Gars wat toe reeds platgesny is, het uitgeloop en is as voergars gegradeer. Ná die afgelope droë winter is die reën baie welkom vir die lusernweidings, sê hy.
By mnr. Maartin Gildenhuys van die plaas Goedemanskraal, Heidelberg, het dit teen Donderdagmiddag skaars 8 mm gereën. Die wolke het egter gelyk asof hulle laatmiddag nog reën sou bring. Hy verwag dat die kanola- en gars-oes gemiddeld sal wees, terwyl die opbrengs van gars wat nog gestaan het na einde September se reën bogemiddeld is. "Die gars se stikstof is vanjaar so laag, ons sukkel nie daarmee nie."
Mnr. Johannes Joubert van die plaas Kweekkraal, Riversdal, sê hul kanola is erg beskadig deur die hael in September, maar hulle het 'n goeie garsoes gekry en nog net 'n klein persentasie van hul koring geoes.