Bogemiddelde reënval word vir die res van die seisoen verwag, met “kanse vir vloede wat nie uitgesluit is nie”, sê mnr. Johan van den Berg, ’n klimatoloog by Santam Landbou.
Van den Berg sê die hittegolf en die droë toestande wat die afgelope paar weke voorgekom het, het nie ernstige skade aan die grane wat tans op landerye is, veroorsaak nie.
Die droër toestande het wel daartoe gelei dat verskeie boere nie mielies kon plant soos wat hulle beoog het nie. Dit het ander boere egter gehelp om landerye droog te kry om of te kon plant of om hul oeste van landerye af te kry.
“Die weer was baie gunstig vir lusern, met heelparty boere wat al die pad bank toe lag vanweë uitnemende aanplantings,” verduidelik Van den Berg.
Weiding
Kommer bestaan wel oor die invloed van die droogtetoestande op die gehalte van weiding. Van den Berg sê die gehalte van veral grasvelde neem af omdat dit opvolgreën nodig het. “Dit gaan lei tot ’n verlies in kondisie van diere, veral reproduserende diere.”
’n Voordeel van die droogtetoestande is dat die voorkoms van dieresiektes en parasiete in dié tyd afneem, verduidelik Van den Berg.
Reën
Oor die korttermyn verwag Van den Berg nie hoë reënvalsyfers nie. Hy voorspel wel dat bo-gemiddelde reën gedurende die res van die seisoen verwag kan word.
“Die reën behoort meestal oor die sentrale dele van die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap voor te kom. Gedeeltes van die Oos-Kaap kan ook hoë reënval ondervind. ’n Redelike groot kans bestaan dat ons ’n oormaat reën kan kry, so die kanse vir vloede kan nie uitgesluit word nie,” sê Van den Berg.
9 Januarie 2012