
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het vandag in ’n verklaring bevestig dat bek-en-klouseer uitgebreek het op ’n plaas in Noordwes waar stoetvee aangehou word.
Veeartse het vroeër bevestig dat dit in die omgewing van Potchefstroom is. Die plaas en ander omliggende plase is onder kwarantyn geplaas, terwyl verdere waarnemings gedoen word om die omvang van die uitbreking te bepaal. Die departement sê in ’n verklaring die provinsiale veeartsenykundige dienste het monsters vanaf die besmette plaas getoets en die laboratoriumtoetse het bevestig dat dit bek-en-klouseer is.
’n Gesamentlike operasionele komitee wat ondersteun word deur die rampbestuurkomitees van die Dr. Kenneth Kaunda- en JB Marks-munisipaliteit, asook die departemente vir veiligheid en sekuriteit is gestig en het Sondag vir die eerste keer vergader om die verspreiding te probeer keer.
Dit is die eerste keer in baie jare dat die siekte so ver buite ’n beheerde gebied voorkom en daar heers groot kommer in die vleisbedryf.
Die departement het in sy verklaring bevestig dat nog ’n uitbreking van die siekte in Maart in die voorheen bek-en-klouseervrye sone in die Collins Chabane-munisipaliteit (Vhembe) in Limpopo bespeur is. Die siekte het onder beeste in twee kommunale weidingsgebiede voorgekom. Een daarvan was in die gebied wat in Januarie 2019 tot ’n beheerde gebied verklaar is. Nog ander moontlike gevalle word ondersoek.
Volgens die departement het dit waarskynlik versprei vanaf die naasliggende beheerde gebied waar daar ’n permanente verbod op die verskuiwing van diere met gesplete hoewe is. In ’n poging om die verspreiding te verhinder is beeste daar ingeënt. In die tweede helfte van 2021 het dit gelyk of die besmetting van diere gekeer is, maar begin vanjaar het dit weer voorgekom in die gebied wat voorheen vry van die siekte was.
Buiten vir die jongste uitbreking in Noordwes en dié in Limpopo versprei die siekte steeds in KwaZulu-Natal en ’n veldtog om beeste in te ent het begin. Die departement sê twee nuwe besmette gebiede is geïdentifiseer. Een is naby die Mthonjaneni-munisipaliteit en die ander een verder suid by die uMlalazi-munisipaliteit (naby die Nkandla- en Maphumulo-munisipaliteit). Diptenks waar die besmetting voorkom, is onder kwarantyn geplaas en die verskuiwing van diere word verbied.
Alle boere, eienaars van vee en ander betrokkenes in die bedryf word gevra om te hou by die beperkings op die verskuiwing van diere, asook ander beperkinge in die dele waar die siekte voorkom. Betrokkenes in ander dele van Suid-Afrika wat vee wil aankoop, moet seker maak dat die diere nie besmet is nie. Waar moontlik moet ’n veearts ’n gesondheidsertifikaat uitreik.
Die department het die voorkoms van die siekte in Noordwes gister by die internasionale dieregesondheidsorganisasie (OIE) aangemeld. Daarvolgens is die plaas waar dit geïdentifiseer is ongeveer halfpad tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Die siekte het op 2 Maart begin en is op 18 Maart bevestig as bek-en-klouseer. Die oorsaak van die besmetting is nog nie bekend nie. Volgens die departement se verslag is daar 1 600 beeste wat vatbaar is vir die die siekte waarvan 1100 besmet is.
Afrika perdesiekte-inentings
Intussen het die DA ’n petisie ontvang wat deur meer as 6 000 perde-eienaars en -telers onderteken is waarin hulle hul kommer oor die tekort aan entstof teen Afrika-perdesiekte en in sommige gevalle vertraagde aflewering van entstowwe uitgespreek het.
Volgens mnr. Janho Engelbrecht van die DA het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, voorheen aangedui dat daar genoeg entstof beskikbaar is, maar aan perde-eienaars en -telers is gesê daar is geen entstof nie. Die DA het weer ’n lys vrae oor die beskikbaarheid van entstowwe aan Didiza gerig, maar nog geen antwoord ontvang nie. “Die feit dat die minister nie ons vrae beantwoord nie, wek die indruk dat alles nie pluis is nie.”
Volgens hom is die perdebedryf bekommerd oor die abnormaal hoë getal voorvalle van Afrika-perdesiekte vroeg in die seisoen. Veeartse het sover vanjaar agt gevalle daarvan bevestig. Die spitsseisoen vir dié siekte is gewoonlik eers laat April of vroeg Mei.
“Die onlangse reën sal sake vererger. Dit, saam met die tekort aan entstof, sal ’n ernstige impak op die bedryf hê.”