
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), sê die eerste vergadering op 17 Januarie tussen die bedryf en die staat het goed verloop. “Albei kante kon hul interpretasie van die situasie gee,” sê Lovell.
Verteenwoordigers van onder meer die Departemente van Handel en Nywerheid, en van Landbou, Bosbou en Visserye het die vergadering bygewoon. Die vergadering is deur 'n groot groep mense bygewoon en 'n kleiner groep is aangewys om binnekort weer te vergader en die proses verder te neem.
Lovell sê die partye het ooreengekom dat oplossings gevind moet word wat prakties is en strook met die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie. Die vergadering volg nadat afleggings en moontlike verdere werkverliese in die sektory wye mediadekking gekry het.
Vakbonde en politieke partye het ook by openbare debat oor die bedryf se situasie betrokke geraak. Die jongste toetreder was mnr. Julius Malema, EFF-leier, wat luidens mediaberigte vra dat 'n tarief van 50% op alle ingevoerde hoender gehef word. Malema vra terselfdertyd dat so 'n tarief ondersteun moet word deur werknemer-aandeleskemas sodat werkers 50% van alle hoenderproduksie-ondernemings kan besit.
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het in Desember 'n voorlopige beskermende tarief van 13,9% op ingevoerde hoenderstukke aan die been uit die Europese Unie afgekondig. Dit geld tot 3 Julie en die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) moet intussen ondersoek wat die uiteindelike beskermingstarief behoort te wees. Die bedryf het die 13,9% as “te min, te laat” gekritiseer.