
Die Regering het reeds planne om met ’n slaghoenderprojek in die Vrystaat die invoer van hoendervleis met meer as 40% te verlaag. Suid-Afrika voer daagliks nagenoeg 800 000 hoenders in.
Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het in ’n parlementêre antwoord aangedui dat die Nasionale Bemagtigingsfonds R46 miljoen goedgekeur het om die slaghoenderprojek in die Vrystaat te ondersteun.
Volgens hom is sy departement se mandaat ten opsigte van die verwerking van pluimveeprodukte beperk. Daarom sal sy departement met enige staatsdepartement, munisipaliteit en private onderneming saamwerk om die pluimveebedryf uit te brei.
Mnr. Darryl Worth, die DA se Vrystaatse lid van die Nasionale Raad van Provinsies, wou by Davies weet watter geldelike steun aan pluimvee-inisiatiewe in die provinsie verleen sal word. Davies het gesê dat beleggingsaansporings ook vir koöperasies geld wat in die bedryf wil belê.
Ondernemings kan om dié geld aansoek doen danksy die departement se beleggingsprogram vir ondernemings. Koöperasies kan ondersteuning kry deur die departement se aansporingskema vir koöperasies wat ’n maksimum toelaag van R350 000 bied, het Davies gesê.