
Die staat koop baie plase en nasionaliseer reeds die land daarmee omdat dié grond sy eiendom bly en nie oorgedra word nie, het mnr. Salam Abram, ANC-LP, op Avcasa se gala-dinee buite Benoni gesê.
Salam het kaalvuis onder die Regering ingeklim en gesê hy pas sosialisme toe en meng in op terreine waarvan hy niks weet nie. As voorbeeld het hy die wolbedryf gebruik en gesê dit is belaglik hoe politici dié bedryf wil reguleer terwyl hulle duidelik niks van die biologiese werklikhede van die landbou verstaan nie. Dit geld ook die gesukkel om chemiese produkte geregistreer te kry.
"Daar is uitstekende amptenare in die staatsdiens, maar die grootste aantal amptenare in alle departemente dink eerder aan redes hoekom iets níe gedoen moet word nie as om dit te pak en die werk te doen."
Hy sê daar is te min mense in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die portefeuljekomitee wat die landbou ken en verstaan. Die portefeuljekomitee moet dit sy taak maak om soveel moontlik van die bedryf se probleme op alle vlakke onder die Regering se aandag te bring, het hy gesê.
Haal politiek uit die landbou
"Ons moet by die punt kom waar politiek uit die landbou gehaal word en van alle boere wat iets produseer, as landbouers gepraat word."
Hy het veral te velde getrek oor die dilemma van politieke aanstellings wat nie die kundigheid het nie en gesê die land gaan nêrens kom met dié benadering nie. Hy het ook uitgevaar oor die gebrek aan ondersteuning vir plase waarop begunstigdes gevestig word, wat veroorsaak dat die grond uit produksie verdwyn.
Op dié plase gaan niks aan nie en dit skep 'n verdere veiligheidsrisiko in landelike gebiede wat reeds onder druk is omdat "tweebeen-roofdiere" daardeur makliker toegang tot ander plase kry.
Salam sê almal in die land moet daarna streef om uitnemend te wees en hulself onmisbaar maak. "Daar is 'n totale verandering van gesindheid op alle gebiede in die land nodig," sê hy.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, het in reaksie op die toespraak gesê: "Mnr. Salam het baie goed daarin geslaag om ’n bepaalde verantwoordelikheid in die landbou korrek te plaas.