
’n Aankondiging dat die moratorium op hidrobreking en die ontginning van skaliegas gelig is, is nie ’n verassing nie, sê die Treasure the Karoo Aksiegroep (TKAG).
Dié aankondiging is op Vrydag 7 September 2012 gemaak.
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die TKAG, sê hy is reeds oor die besluit ingelig, en dat die groep enige aansoeke vir prospekteringslisensies in dié verband in die land op elke moontlike manier sal teenstaan. “Dié stap maak Suid-Afrika se grense oop vir baie meer maatskappye wat deel wil hê aan die land se sogenoemde skaliegasrykdom.
“Die Minister (me. Susan Shabangu, Minister van Energie), stuur daarmee die boodskap aan die wêreld uit dat Suid-Afrika oop is vir besigheid,” aldus Deal.
Konsultasie
Volgens Deal het die Minister aangedui dat al is die moratorium gelig, ’n konsultasieproses met gemeenskappe sal plaasvind voor lisensies toegeken word. “Hoekom het dié konsultasies nie plaasgevind vóór ’n besluit oor die moratorium geneem is nie? Dit maak nie sin nie!”
Volgens Deal ignoreer die staat die feit dat dié mynmetode en die ontginning van skaliegas deur miljoene mense wêreldwyd teengestaan word.
“Hulle ignoreer ook die navorsing wat deur soveel wetenskaplikes gedoen is en wat die ongunstige resultate wys. Hoekom wil Frankryk en Bulgarye dit nie toelaat nie? Hoekom bestaan daar in Duitsland, Switzerland en die Tseggiese Republiek moratoriums daarop, maar dit word Suid-Afrika toegelaat?”
Met dié stap dui die staat aan dat hy desperaat is om werksgeleenthede te skep, merk Deal op. “Ek het ’n groot vrees dat dit enorme skade in die land kan aanrig as dié mynmetode toegelaat word en onderweg is.”