
Die regering en sy betrokke staatsdepartmente, met die samewerking van die bedryf, moet dringend so veel moontlik nuwe markte vir landbouprodukte vind, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.
Sihlobo was lid van ’n afvaardiging wat einde verlede jaar verskeie leiers van landboubesighede in verskillende provinsies besoek het. Hy sê handel en uitvoer het alle gesprekke oorheers. “Daar was by baie erkenning vir die goeie werk wat die regering gedoen het om die landbousektor sedert 1994 deel van die globale gemeenskap te maak. Uitvoer het sedertdien aansienlik gegroei.”
Hy verwys na die handelsooreenkomste waarby Suid-Afrika betrokke is. Dit is hierdie ooreenkomste wat daartoe bydra dat bykans die helfte van die land se landbouprodukte in waarde uitgevoer word – net meer as $10 miljard (R155 miljard) in ’n normale seisoen. Die vrugte-, wyn-, graan-, wol- en beesvleisbedryf het veral die leiding geneem. “Die suksesvolle handel het ook tot meer beleggings en uitbreidings, veral in die vrugtebedrywe, gelei.”
Hy sê landboubesighede en primêre landbougroepe wil hul marktoegang tot lande soos Japan, China, Saoedi-Arabië, Bangladesj en Indië verbreed. Daar was wel al deurbrake soos Suid-Afrikaanse pere wat nou China uitgevoer kan word, maar daar is al hoe meer vrugte, wyn en vleis wat vir uitvoer beskikbaar raak.
“As ons hierdie bedryf wil sien as een van die belangrikste om groei en werkskepping te bevorder, dan sal ons so behendig soos lande soos Peru en Chili moet wees om toegang vir ons landbouprodukte op belangrike markte te bewerkstellig.”
Infrastruktuur
Die ander groot probleem, wat met uitvoer verband hou, is die noodsaaklikheid om infrastruktuur soos paaie, spoorvervoer en hawens dringend te verbeter. “Hierdie is geen nuwe kwessie nie, maar mens moet beklemtoon dat die onlangse baie reën die toestand van die slegte paaie in landelike gebiede verder versleg het. Die regering sal hieraan aandag moet gee.” Hy sê die regering sal Transnet moet bystaan om die spoorinfrastruktuur teen vandalisme te beskerm.
Sihlobo sê dit sluit aan by die noodsaaklikheid om plaaslike regerings dringend te verbeter. Mnr. Tito Mboweni, voormalige minister van finansies, het Suid-Afrika geskok toe hy in Mei verlede jaar bekend gemaak het dat van die 278 munisipaliteite in Suid-Afrika was 163 geldelik in die knyp, 40 kon nie meer basiese dienste lewer nie en 102 het nie genoeg geld vir hul begrotings gehad nie.
“Die landbousektor het baie potensiaal om landelike ekonomieë ’n hupstoot te gee, maar daar is voorvereistes waaraan die regering en staatsinstellings sal moet voldoen om ’n omgewing te skep wat gunstig vir beleggings is.”
Sihlobo sê Rusland en Oekraïne vervul albei ’n sleutelrol in landbouproduksie. Die spanning tussen hulle kan die produksie of uitvoer van landboukommoditeite benadeel en ’n invloed op die wêreld se kommoditeitspryse hê.
Hy sê Rusland produseer sowat 10% van die wêreld se koring en Oekraïne sowat 4%. Hierdie koring is op die uitvoermark gerig. Rusland is verantwoordelik vir 18% van die wêreld se koringuitvoer en Oekraïne vir 8%. Dit is meer as ’n kwart van die wêreldhandel.
Hulle is saam ook verantwoordelik vir sowat 14% van die wêreld se mielie-uitvoer. In 2020 het Oekraïne 40% van die wêreld se sonneblomsaad uitgevoer en Rusland 18%.
Suid-Afrika voer normaalweg koring in van albei lande. “Rusland is Suid-Afrika se 17de grootste verskaffer van landbouprodukte en Oekraïne is 44ste. Wat uitvoer betref, is Rusland Suid-Afrika se 13de grootste mark. Uitvoerprodukte is hoofsaaklik sitrus, neute, groente en tabak.”