
Die feit dat meer as 13 000 landbou-eiendomme in die mark is, is ontstellend en hou geen goeie vooruitsigte vir die landbou en voedselsekerheid in Suid-Afrika in nie.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, het dié verwikkeling vierkantig voor die deur van die ANC gelê. “Boere bly die teiken van onbillike beskuldigings dat hulle kwansuis grond sou gesteel het, en van onredelike voorgenome wetgewing, soos onteiening, en nou ook ondeurdagte grondplafonne,” sê Meintjes.
“Dit is politieke oneerlikheid van die ANC en die Regering om die georganiseerde landbou te nooi om tot in Maart sy voorstelle op die tafel te sit, maar dan eensydig aan te kondig dat hy ongeag dit, voortgaan met sy eie planne. Dit maak van alle deelnameprosesse ‘n klug.
“Met hierdie soort optrede het die Regering die lyn nou duidelik getrek. Hy stuur af op ‘n ernstige konfrontasie met die landbougemeenskap en die georganiseerde landbou. Hy moet nie kla as hy met hierdie eensydige en arrogante optrede nie meer kan staat maak op enige vorm van welwillendheid nie.
“Die TLU SA sal nou meer en sterker as ooit tevore opstaan vir die belange van sy lede. Die minister het reeds uitdagend gesê dat hy bereid is om sy onteieningsvoorstelle tot in die Grondwetlike Hof te voer. Hy moet net weet: die TLU SA ook!”, sê Meintjes.
Intussen sê Meintjes dat dié beskikbare landbougrond, die waarde van landbou-eiendom onder druk kan plaas. (Vroeër het Landbou.com berig dat meer as 13 000 plase en kleinhoewes op sy webwerf te koop is.)
“Maar dit bevestig ook weer dat as die Regering gehoor sou gee aan die voorstelle wat die TLU SA al jare gelede gemaak het, deur bloot die beskikbare grond wat in die mark kom, vir sy projekte aan te skaf, daar geen noodsaaklikheid is vir ideologiese grondhervormingsprojekte nie, wat neerkom op gedwonge verskuiwing van bestaande boere.
“Die TLU SA bevestig opnuut dat die landbou ‘n ekonomiese proses is en volgens die regte beginsels hanteer moet word met een doel voor oë, naamlik om kos te produseer. Indien in ag geneem word dat die projekte van die Regering rondom grond sover grootliks misluk het, moet Suid-Afrika kennis neem dat die huidige beleidsomgewing afstuur op ‘n mislukte landbou-omgewing, armoede en hongersnood. “Verder moet die Regering kennis neem dat die TLU SA nie betrokke sal raak by enige proses of standpunt wat die land en sy ekonomie verder skade kan aanrig nie”, sê Meintjes.
Meintjes het ‘n beroep op boere gedoen om nie moedeloos te word by die aanhoor van al die dreigemente uit Regeringskringe nie. “Vat eerder hande met die georganiseerde landbou en staan op vir wat ons reg is. Boere moet nie nou paniekerige en impulsiewe besluite maak wat op die lange duur vir hulle baie nadelig kan wees nie,” sê Meintjes.