Waar is die besluitnemers van die Regering, het mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bio-energievereniging, op vanjaar se AllFresh-konferensie by Sun City gevra.
Makenete het sy praatjie begin deur te vra of verskeie departemente en instellings, soos die Mededingingskommissie, die konferensie bywoon.
Slegs verteenwoordigers van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het aangedui dat hulle die konferensie bywoon.
Makenete meen dat verteenwoordigers van Itac, die Mededingingskommissie, asook die departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Ekonomiese Ontwikkeling en Handel by sulke geleenthede en forums teenwoordig moes wees.
“Ons het ’n probleem, want ons praat met onsself. Die mense wat die besluite neem, praat nie met ons nie, of ons praat nie met hulle nie,” aldus Makenete.
Pas aan
Volgens Makenete moet die verskeie bedrywe binne die landbousektor besef dat hulle moet transformeer en aanpas by verbruikersneigings om hul voortbestaan te verseker.
“Die Suid-Afrikaanse landbou het agteruit beweeg, dit het ge-deïndustraliseer.”
Hy sê die bedryf pas nie vinnig genoeg aan nie: “Kyk na Tiger (Brands). Hulle produseer steeds pap, soos hulle al die jare gedoen het, terwyl verbruikersneigings duidelik wys dat die gebruik van rys toeneem.
Hoe kan ons sê ons wil die ekonomie laat groei as die hele sektor nie transformeer en nuwe verbruikersneigings hanteer nie?”
Makenete meen dat die bedryf ook nie genoeg aandag van die Regering geniet nie. “Ons moet op mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, se verslae se voorblad wees, want die landbousektor het die vermoë om volhoubaar te groei.”
Een van die oplossings wat Makenete voorstel, is om druk toe te pas op die Regering en die samelewing om die sektor by te staan om suksesvol te wees, veral vir voedselsekerheid.
26 Oktober 2011