
Die skielike aankondiging deur die departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling is amptelik Dinsdag bekend gemaak.
Só word beeste ingeperk
Die verbod van drie weke is net op toepassing van beeste aangesien die verskuiwing van dié diere as die hoofoorsaak van die uitbrekings geïdentifiseer is.
Beeste mag ingevolge die verbod nie tussen eiendomme geskuif word nie; behalwe wanneer die vee na geregistreerdes abattoirs vervoer en onmiddellik geslag word.
Beeste mag nie tussen plase, gebiede en persele vervoer word om verkoop te word nie. Die verbod geld ook skoue, teel, rituele, lobola of enige ander rede.
Die diere mag ook nie na voerkrale vervoer word nie en mag slegs vanaf voerkrale geskuif word as dit direk na ’n geregistreerde abattoir is.
Beeste mag ook nie vir uitvoer- of invoerdoeleindes geskuif word nie. Die regerings van Botswana en Namibië het gister verklarings uitgereik om hul vee-eienaars in te lig oor die verbod en die impak daarvan op diere wat na of van Suid-Afrika in- of uitgevoer sou word.
Grasietydperk amper verby
’n Toegewing is wel gemaak vir beeste wat reeds by veilings en voerkrale was met die afkondiging.
Indien beeste reeds by veilingkrale of skouterreine is waarvoor die skou of veiling vir 17 of 18 Augustus geskeduleer was, mag dié vee geskuif word, maar vanaf Vrydag 19 Augustus mag geen beeste na of van veilings en skoue geskuif word nie.
Onsekerhede en kopsere
Die skielike aankondiging sorg egter klaar vir groot kopsere en onsekerhede vir boere, afslaers, abattoirs en voerkrale.
Aanvanklik het die departement byvoorbeeld in sy verklaring oor die verbod gesê beeste mag wel vir rituele doeleindes geskuif word. Dit is volgens die nuutste aanduidings nie meer die geval nie.
Volgens dr. Michael Swart, staatsveearts in die Wes-Kaap, skep die nasionale verbod vir baie boere, soos melkboere wat ook nou deur die verbod geraak word, probleme.
“Melkboere wat hul bulkalwers verkoop, sal dit volgens die verbod nie op die oomblik kan doen nie. Dié boere sal nou die kalwers moet voer tot hulle verkoop en geskuif mag word.
“Beseerde beeste wat vir noodslag moet gaan, sal ook eers ’n gesondheidsertifikaat vanaf private veeartse benodig.”
Hy sê boere wat teelbulle het, sal ook nie die bulle kan vervoer terwyl die verbod geld nie.
Só kan siekte steeds versprei
Benewens ooglopende redes soos die onwettige verskuiwing van beeste tydens die toepassing van die verbod, kan die siekte aanhou versprei deur byvoorbeeld speeksel in water.
Volgens Swart kan ’n siek bees se speeksel in krippe beland en só na ander diere oorgedra word.
“Die siekte kan ook van beeste na wild versprei en dit is dus moontlik dat vrylopende wildsbokke die siekte kan kry en verder versprei.”
Inentings
Inentings word slegs gegee in gebiede waar daar uitbrekings is, en dus nie voorkomend in gebiede vry van bek-en-klouseer nie.
Volgens Swart is inentings teen die virus deel van die beheerstrategie en word dit net in siektebeheergebiede, saam met perke op beweging, toegepas.
“Lande wat ons vleis invoer, sal nie sommer invoer vanuit areas waar inentings teen bek-en-klouseer toegepas word nie, al is die gebiede vry van die virus verklaar.”
Volgens die departement is altesame 388 449 inentings aangeteken.
Die inentingsveldtog in KwaZulu-Natal het op 15 Maart begin en gaan voort in die provinsie se siektebeheergebied waar die virus moontlik in sirkulasie is. ’n Risiko-gebaseerde benadering word gevolg met meer as 256 000 beeste wat reeds in die provinsie ingeënt is.
In die Thulamela-gebied in Limpopo word diere ingeënt by diptenks waar daar positiewe gevalle was, as deel van pogings om weerstand op te bou.
Inentings van beeste in geaffekteerde areas in Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat en Gauteng het ook reeds begin.
Kwarantyn en padblokkades
Indien enige dier positief toets vir bek-en-klouseer, word die hele perseel en diere waarmee die positiewe dier(e) in kontak was, as positief beskou.
Alle plase in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga wat deur uitbrekings geraak word, is onder kwarantyn en streng toegangsbeheer word op dié geaffekteerde plase toegepas.
Die minister het ook die siektebeheergebied in KwaZulu-Natal uitgebrei. Die siektebeheergebied in Limpopo wat oorspronklik in 2019 verklaar is, is ook vergroot. Beperkings op die verskuiwing van gespletehoefdiere, hul produkte en teelmateriaal uit, na, deur en in dié twee gebiede geld steeds.
Sigbare patrollies van veeartse en padblokkades word ingespan in hoërisikogebiede en waar daar inligting bekom is oor die moontlike verskuiwing van diere.
Die uitslag van vee het reeds in sekere gebiede, op plase, by voerkrale en veilings plaasgevind, waarna die omgewing ontsmet is.
*Bepalings rondom die verbod is Donderdagmiddag, 18 Augustus 2022, gepubliseer. Klik hier om dit te lees.