
Finansiering vir die plaasgelykheidskema is onlangs glo deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gestaak, en die Demokratiese Alliansie (DA) wil antwoorde daaroor hê.
Die party wil verder weet watter stappe die departement doen om dié skema, wat geslaag in die Wes-Kaap toegepas word, te bevorder.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het in Maart verlede jaar die moratorium opgehef wat sedert Junie 2009 op dié skemas van toepassing was, maar daar is steeds nie finansiering beskikbaar nie.
Dr. Wilmot James, die DA se woordvoerder vir handel en nywerheid, sê sedert die moratorium opgehef is, het die departement nog nie aangedui wat gedoen word om die skema te bevorder nie.
Hy sal vrae in die parlement in dié verband aan Nkwinti rig.
Suksesvol
Die skemas is op sowat 90 plase in die Wes-Kaap toegepas en die DA meen dít is tans die mees suksesvolle model vir grondhervorming wat beskikbaar is. “Hierdie skemas gee opkomende boere die ondersteuning wat hulle nodig het om ’n sukses van hul ondernemings te maak, en dit help met versoening en nasiebou,” sê James.
Die model laat boere toe om hul grond deur ’n gedeelde eienaarskapskema te verkoop. Dit stel plaaswerkers in staat om ’n deel van die plaas te koop deur geld te gebruik wat die staat aan grondhervorming toegesê het.
Lelienfontein
James, mnr. Gerrit van Rensburg, die Wes-Kaapse minister van landbou, en ’n afvaardiging van die DA het die plaas Lelienfontein en die Bosman-familie se wynplaas naby Wellington Maandag (18 Junie 2012) besoek. Tot op datum het die Lelienfontein-wingerdkwekersgroep en hul vennote, Adama Appollo-werkerstrust, die grootste grondhervormingstransaksie in die wynbedryf aangegaan.
Dié Lelienfontein-skema is in 2008 bekragtig en begunstigdes van die trust, wat plaaswerkers insluit, kry ’n 30% aandeel in al die wingerde van die Bosman-boerdery én die Bosman-familie se wynplaas. Sowat 250 individue is begunstigdes van die trust, en sowat 430 ha wingerdgrond is aan die gemeenskap beskikbaar gestel.