
’n Enkele wet sal ontwikkel word sodat restitusie sonder vergoeding kan plaasvind, is in die debat oor die staatsrede gesê. Dit is die roete wat die Regering wil neem om sy grondhervormingsideale onder sy radikale ekonomiese transformasieplan te bereik.
Pres. Jacob Zuma het in sy staatsrede aangedui dat hy besluit het om die Wetsontwerp op Onteiening terug na die Parlement vir heroorweging te stuur omdat die vorige weergawe moontlik nie aan die grondwetlike vereistes sou voldoen nie. Die rede hiervoor is omdat die proses van openbare verhore nie voldoende was nie.
“Ons het ons voorneme aangedui om die Onteieningswetsontwerp, binne die perke van die Grondwet, te gebruik om grondhervorming en die herverdeling van grond na te jaag.”
Nkwinti praat by debat oor staatsrede
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het Dinsdag, 14 Februarie, by die debat oor die staatsrede gesê dat:
- ’n Pre-koloniale oudit van grondeienaarskap, die gebruik van grond en verblyfpatrone sal gedoen word.
- Wanneer die oudit voltooi is, sal ’n enkele wet ontwikkel word om die kwessie van restitusie sonder vergoeding aan te spreek.
- Die nodige grondwetlike wysigings sal nodig wees om dit te laat verwerklik.
- Die Nasionale Grondeisekommissie moet herontwerp en ’n Artikel 9-instelling word.
Die ANC het ’n tweederde stem nodig om die grondwetlike vereiste van onteiening met vergoeding soos, vervat in Artikel 25 van die Grondwet, te verander. Die president het aangedui dat die Onteieningswet gebruik sal word om grondhervorming en herverdeling na te jaag, maar dat dit binne die perke van die Grondwet sal gebeur.
Herstel van grondregte
In Desember 2016 het verskeie opposisiepartye, die EFF, die IVP en die UDM, by ’n debat oor die grondkwessie in die Nasionale Vergadering dit duidelik gemaak dat herstel van grondregte bespoedig moet word en dat die Regering nie moet skroom om onteiening toe te pas as hy nie ’n ander uitweg sien nie.
Nkwinti het gesê sedert 1994 is 4 850 100 hektaar grond deur die grondhervormingsprogramme aangeskaf. Altesaam 1 743 plase het voordeel getrek uit die herkapitalisering en ontwikkelingsprogram wat in 2009 begin is.
Rakende restitusie, is 3 389 727 hektaar grond tot Januarie 2017 herstel en finansiële vergoeding van R11,6 miljard is aan begunstigdes van restitusie uitbetaal, wat geld eerder as die grond verkies het.
Indien grond gekies is
Indien hierdie begunstigdes die grond gekies het, sou ’n bykomende 2 772 457 hektaar grond vir restitusie oorgedra gewees het.
Van die grootste probleme waarmee gesukkel word om die grondhervormingsprogramme te implementeer, is ongekoördineerde institusionele transformasie. “Baie keer word aangeneem dat grondhervorming slegs binne die mandaat van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming val,” het Nkwinti gesê.
* Lees ook: Los die politiek en boer saam, sê Mathews Phosa