Die maatreëls wat die staat reeds ingestel het om teen renosterstroping in te gryp, gaan verskerp word, sê me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake en Waterwese.
Luidens ’n verklaring het Molewa tydens ’n mediakonferensie aangedui dat die hulp van alle rolspelers in die bedryf nodig is om dié misdaad te voorkom.
Tydens die Renosterberaad, wat onder Molewa se voorganger, me. Bulyewa Sonjica, plaasgevind het, is die nasionale biodiversiteit-speurderforum en die nasionale omgewingsreaksie-eenheid op die been gebring. Molewa sê dié instansies se werksaamhede sal verskerp word.
Die land het verlede jaar amptelik 448 renosters weens stroping verloor, en volgens mediaberigte staan die dodetal vir vanjaar reeds op 16. Dít kom neer op een renoster per dag.
Wildbewaarders
Molewa sê as deel van die maatreëls wat ingestel gaan word om veral renosters in die Krugerwildtuin te beskerm, sal nog 150 wildbewaarders dié jaar in die park ontplooi word. Dít sal die aantal wildbewaarders in die park op 650 te staan bring.
Omgewingskenners sal voortaan ook by geïdentifiseerde grensposte ontplooi word in ’n poging om internasionale handelaars vas te trek. Volgens Molewa gaan samesprekings met ander regerings om hul samewerking voortaan tot op ministeriële vlak plaasvind.
Molewa het intussen ook besluit om nie ’n moratorium op die jag van renosters in te stel nie. Sy sê sy hou wel die reg voor om ter enige tyd so ’n moratorium in te stel in ’n omgewing of provinsie waar sy dit nodig kan ag.
“My departement sal wel nie meer permitte uitreik aan jagters wat van lande kom wat nie behoorlike wetgewing het om te monitor of trofeë gebruik gaan word vir die doel wat op die permit aangedui word nie,” aldus Molewa.
Prioriteit
Intussen sê mnr. Gareth Morgan, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir omgewingsake, dit is hoog tyd dat dié misdaad ’n voorrangsaak vir die staat word. Morgan stel voor dat die land se beste spesialiste in die misdaadbekampingsnetwerk ook op dié misdaad begin fokus.
“Ons het hoëprofiel inhegtenisnemings binne die volgende maand nodig. Om stropers te beveg is meer as net die ontplooiing van wildbewaarders op grondvlak; dit moet ook fokus op die inhegtenisname van die ‘baasbreine’,” sê Morgan.
Verder meen Morgan Suid-Afrika moet sy posisie as voorsitter van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gebruik om vas te stel of die handel in produkte van wilde diere ’n bedreiging vir internasionale veiligheid is. Dít kan moontlik gebruik word om meer druk op Oosterse lande te plaas.
16 Januarie 2012