
Vir die Regering om grond aan mense te gee om hulle te bemagtig, “is om die kar voor die perde te span”, het mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, by 'n blitskonferensie van AfriSake oor die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit gesê.
Mense sonder die regte vaardighede, gaan volgens Roodt nie deel wees van die sprong wat die landbou wêreldwyd besig is om van 'n primêre na 'n dienstesektor te maak nie.
Die Regering besef dit nie en staar hom blind teen grond, maar daar is ook boere wat bly glo aan “die oudmodiese model van 'n eenmansaak”, het Roodt gesê. Plase word internasionaal al groter en lyk al meer soos ander ondernemings. Die Regering se plan om grondbesit te beperk, is in stryd hiermee, het Roodt gesê.
Grondwet
AfriSake het op 31 Maart sy kommentaar op die wetsontwerp ingedien en het gevra dat die tydperk vir kommentaar met minstens nog 60 of 90 dae verleng moet word. Volgens mnr. Armand Greyling, AfriSake se beleids- en regsontleder, sal AfriSake die Grondwethof nader indien die konsepwetgewing in sy huidige vorm in werking gestel word.
Mnr. Charles Castle, bestuurder by AfriSake, het grondeienaars aangemoedig om vertroud te wees met die voorgestelde wetgewing, kommentaar daarop te lewer, die regte oor hul eiendom binne die grense van bestaande wetgewing te diversifiseer en raad hieroor in te win, en organisasies soos AfriSake te ondersteun om die wet te stuit.
Wye gevolge
Adv. Johan Hamman, kenner van eiendomsreg, het die wetsontwerp as “drakonies” bestempel. Dit kan baie mense van toekomstige grondbesit uitsluit.
Boere sal waarskynlik advies moet inwin om te kan voldoen aan die vereistes om binne 'n jaar van die inwerkingtreding van die wet op 'n voorgeskrewe manier verslag te moet doen oor wie grond besit, watter ras die eienaars is, die grootte van die grond, en alle regte wat daarop geregistreer is.
Hamman sê die vereiste dat 'n buitelander net grond mag koop indien 'n swart persoon 'n meerderheidsaandeel daarin verkry, beteken dit gaan vir wit mense onmoontlik wees om in dié opsig 'n vennootskap met buitelanders te sluit.
Hy is bekommerd dat 'n buitelander op geen manier grond sal mag verkry nie en het gesê die Namibiese grondwet maak 'n uitsondering oor grond wat geërf word. Volgens Roodt sal die voorgestelde wet onvermydelik tot swakker ekonomiese groei lei, en daarmee saam 'n toename in werkloosheid en armoede.