
Die blaam moet vierkantig voor die Regering se deur gelê word dat van die vrugbaarste landbougrond in die land – die voormalige tuislande – nie ontwikkel word nie.
Só het mnr. Pieter du Toit, besturende direkteur van die Dutoit Groep tydens die Agridag op die Hamlet Kuns- en Kultuurfees op Prince Alfred Hamlet gesê.
Die Dutoit Groep is een van die grootste vrugte- en groente-ondernemings in die land en produseer 175 000 ton appels, pere, pruime, nektariens, kersies en groente. Buiten vir die Wes-Kaap, produseer die onderneming ook vrugte in die Langkloof in die Oos-Kaap. Die groep neem sowat 8800 mense in diens.
Tradisionele leiers
Du Toit het na ’n McKinsey-verslag oor landbou-ontwikkelingsgeleenthede in Suid-Afrika verwys. “Die Oos-Kaap val reg in die teikengebied. Daar is grond, water en produkte waarmee ons kan boer. Die Regering is egter te slap om vir tradisionele leiers wat op die grond sit, te sê hul politieke agenda is te hoog.
“Ek kan nie na die Oos-Kaap gaan en ’n stuk grond gaan koop nie, want daar is nie titelaktes nie. My vingers wys na die Regering se kant toe.”
Du Toit meen die Regering moet mense nooi om in hierdie vrugbare areas – ook bekend as Suid-Afrika se tweede mieliegordel – te kom boer. Hy het Peru voorgehou as ’n voorbeeld van ’n land waar die regering die raamwerk skep om nuwe beleggings na die landbou te lok.