As die rioolstortingsprobleem in Vryburg en die Hartsrivier nie opgelos word nie, sal kriminele klagtes teen die owerhede ingedien word, sê AfriForum.
Luidens ’n verklaring is dié organisasie hoogs ontevrede oor die Naledi-munisipaliteit en die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit se versuim om na die situasie om te sien.
Mnr. Herman Swanepoel, die organisasie se plaaslike verteenwoordiger, sê die munisipaliteit het die gemeenskap die versekering gegee dat die probleme teen 15 Maart opgelos sou wees.
“Lede van die gemeenskap het die rioolwerke gaan inspekteer en niks het verander nie. Onverwerkte riool vloei steeds deur die aanleg en beland in die Hartsrivier.”
Die organisasie het ’n brief aan die provinsiale departement van waterwese gerig om die situasie op te los. Regstappe sal egter gedoen word indien die situasie nie opgelos word nie, aangesien die besoedeling van waterbronne ’n kriminele oortreding is.
Hartsrivier
Mnr. Naudé Pienaar, ’n verteenwoordiger vir Agri Noordwes, sê hulle is baie bekommerd oor die stand van sake rakende die Hartsrivier en die Groot-Maricorivier.
Pienaar sê die E-coli-telling in dié riviere is bo die aanvaarde getalle wat deur die departement aangedui word, wat beteken dat dit nie vir menslike gebruik of besproeiing geskik is nie.
Verder bestaan kommer oor die feit dat die kontrak met die konsultante wat die situasie rakende die Hartsrivier gemonitor het, glo summier beëindig is. Dit was moontlik die gevolg van wanbetaling deur die munisipaliteit.
Die munisipaliteit wil die monitering en bestuur van die rioolwerke nou glo self hanteer. “Ons glo hy het nie die vermoë om dié monitering en rioolwerke self te hanteer nie,” aldus Pienaar.
Volgens Pienaar is inligting oor die stand van sake aan die Openbare Beskermer vir ’n moontlike ondersoek gestuur.
20 Maart 2012