
Luidens ’n berig op IOL het mnr. Ronald Lamola, die Jeugliga se ondervoorsitter, in ’n werksessie in Centurion gesê afdeling 25 van die Grondwet, wat eiendomsreg beskerm, moet verander word.
Hy sê as dié afdeling verander word, sal beleggers en wit Suid-Afrikaners uit die land vlug. “Toe grondgrypery in Zimbabwe begin het, het mense weggehardloop. Hulle gaan loop,” aldus Lamola.
Intussen het die TLU SA sy regspan opdrag gegee om die strengste moontlike stappe teen Lamola en die Jeugliga te doen. Dít kan insluit die verkryging van ’n hofbevel, die lê van ’n strafregtelike klag en klagte by die Menseregtekommissie.
Weersin
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter, sê hulle het met weersin kennis geneem van Lamola se uitsprake: “Sy dreigemente dat boere wat wil bly leef, hul grond moet verlaat, word in ’n baie ernstige lig gesien.”
AfriForum is op sy beurt van plan om Lamola by die Polisie en die Gelykheidshof te verkla oor sy uitsprake. Die organisasie het beeldmateriaal wat in televisienuusbulletins uitgesaai is, aangevra.
Mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger, sê Lamola se uitsprake kom op haatspraak neer en val binne die definisie van ernstige misdade soos intimidasie en aanhitsing tot geweld.
“Lamola het onder meer by name ‘die Van Tonders en die Van der Merwes op die plase’ gewaarsku dat hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie,” lui AfriForum se verklaring.
Bron: IOL