
Regulasies wat die vermenging van biobrandstof in die toekoms verpligtend sal maak, is Vrydag (24 Augustus 2012) in die Staatskoerant afgekondig. Dié stap deur me. Dipuo Peters, Minister van Energie, word deur Graan SA (GSA) verwelkom.
Luidens ’n verklaring sê die organisasie hy het baie ure bestee aan beplanning om die staat met dié inisiatief te ondersteun. Boere, veral nuwe swart boere, is opgelei en geld is bekom om die beste kultivars vir etanol uit sorghum te identifiseer.
Verder het Graan SA ’n vennootskap met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming aangegaan om plase in die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga te herkapitaliseer om bykomende tonne sorghum en sojabone vir dié doel te produseer.
“Die rekordpryse van sojabone sal boere beslis aanmoedig om in komende seisoene meer te plant vir biobrandstof-doeleindes.”
Implementerings datum
Die organisasie sê hy het daarvan kennis geneem dat die datum waarop die regulasies geïmplementeer moet word, nie in die Staatskoerant aangedui word nie.
Graan SA sê vir die doeleindes van saadvermeerdering vir die oes van 2014, wanneer biobrandstof-aanlegte hul eerste gewasse sal kan inneem, moet boere teen einde September vanjaar gekontrakteer word.
Dit is dus baie belangrik vir die private sektor dat Peters die implementeringsdatum en die administratiewe pryse van biobrandstowwe so gou moontlik bekend maak, “want bitter min kan gedoen word voor dit bevestig is.”
“’n Groener toekoms sal tot almal se voordeel wees en die werksgeleenthede wat geskep sal word, sal nie net tot voordeel van Suid-Afrika wees nie, maar ook vir landelike gebiede waar die graan vir biobrandstowwe geproduseer sal word,” sê mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA.