
Prof. Johan Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch, het tydens ’n voorlegging gedurende die African Agritech-konferensie in Pretoria gesê Suid-Afrika het in die vroeë 2000’s die regte stap gedoen deur geneties gemodifiseerde (GM) saad te aanvaar.
“Die produktiwiteitsgroei wat oor die afgelope twee dekades danksy hierdie stap plaasgevind het, was fassinered om te beleef. Ongelukkig het die prosesse om nuwe tegnologieë aan die bedryf beskikbaar te stel, sedertdien aansienlik stadiger geword.”
Hy het daarop gewys dat van hierdie nuwe tegnologieë wel potensieel gevaarlik kan wees en dus deeglik gereguleer moet word, maar hy het ook gesê dat kapasiteitskwessies binne die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die doeltreffende registrasie van nuwe tegnologieë strem.
“Daar is kwessies rakende kommunikasie waar die regering se regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie, kwessies met genoeg personeel om aansoeke te hanteer en met die registrasieproses self. Die landbou is ’n tegnologie-intensiewe, kapitaal-intensiewe en vaardigheidsintensiewe bedryf en dit is belangrik om te verstaan hoe verbetering in tegnologie produsente help om voor hul mededingers te bly. Ons is egter nie oortuig dat diegene in die regulatoriese spasie altyd daarvan bewus is hoe belangrik dit is om vinnig te werk te gaan nie, veral met betrekking tot nuwe en gevorderde tegnologie.”
Kirsten het ook gewaarsku dat vertragings met die registrasie van nuwe aktiewe middels in plaagdoders daartoe kan lei dat Suid-Afrika kosbare markte kan verloor. “Die Europese Unie se Green Deal-plan vereis dat die vasteland teen 2030 sowat 20% minder kunsmis en 50% minder plaagdoders moet gebruik. Indien Suid-Afrika, wat aktief na hierdie markte wil uitvoer, nie betyds die nodige nuwe middels kan registreer nie, hou dit ’n risiko in dat ons hierdie markte kan verloor.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.