
Die staat se regulering-visier mik nou na die ganse voedselketting. In ’n verklaring kondig die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aan dat drie instansies die regulasies, soos in Wet 119 van 1990, die Wet op Landbouprodukstandaarde, voorgeskryf is, te implementeer en die ganse voedselketting te inspekteer.
Suiwelprodukte, nagemaakte suiwelprodukte, alle tipes vleis, eiers, verwerkte voedsel soos rooibos, heuning, tafel-olywe, vrugtesap, geblikte, bevrore en gedroogte vrugte en groente en enige ander verwerkte voedsel waarvoor regulasies bestaan, sal onderhewig wees aan ’n statutêre heffing en ’n inspeksie. Hierdie inspeksies sal by fabrieke, verwerkingsaanlegte, verspreidingsentra, hawens en kleinhandelaars plaasvind.
Volgens me. Makenosi Maroo, kommunikasiedirekteur van die departement, is nog geen amptelike datum waarop hierdie regulasies toegepas, inspeksies sal begin plaasvind en die heffings in werking sal tree nie. “Ons het nog nie ’n datum nie, maar dit sal spoedig gebeur,” het Maroo verseker.
Meer betroubare bedryf
Die departement, soos met die aanstelling van Prokon om die groentebedryf te inspekteer, voer aan dat die implementering van hierdie regulasies ’n meer betroubare bedryf en betroubare, volgehoue gehalte tot gevolg gaan hê, dat voedsel baie veiliger vir die eindverbruiker is, dat kompetisie in die bedryf meer regverdig is en dat swak gehalte produkte nie in Suid-Afrika gestort word nie.
Die drie maatskappye wat aangestel is om verskillende produkgroepe te inspekteer is Nejahmogul Technologies and Agric Services, wat suiwel sal inspekteer, Agency for Food Safety, wat vleis en eiers sal inspekteer en Impumelelo Agribusiness Solutions, wat alle verwerkte en geblikte voedsel sal inspekteer.
Wet 119 van 1990 met al die regulasies in, is op die departement se webwerf, http://www.daff.gov.za, beskikbaar.