
Mnr. Marinus (46) en Etienne (38) Kohler word daarvan aangekla dat hulle ’n vermeende veedief doodgeskiet en vier ander probeer vermoor het. Hul saak is tot 25 Julie uitgestel.
Volgens adj.off. Mmako Mophiring het die voorval Vrydagoggend op die R57 plaasgevind. Die twee boere het vyf vermeende veediewe in ’n grys Ford Ranger-bakkie met vyf van hul skape op die laaibak agterna gesit.
Mophiring sê die boere voer aan dat die verdagtes hulle aangeval het en daarom het hulle op die verdagtes begin skiet. Een van die verdagtes is in die proses doodgeskiet.
Twee van die vermeende veediewe is in hegtenis geneem en verskyn vandag in die Reitz-landdroshof. Die ander twee het van die toneel gevlug en is steeds soek.
Kommer oor veediefstal en plaasaanvalle
Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou, sê dit is belangrik om in gedagte te hou dat die saak nog sub judice is en daarom wil die organisasie nie kommentaar oor hierdie spesifieke saak lewer nie.
Sy sê dit is egter vir Vrystaat Landbou en die georganiseerde landbou in die algemeen kommerwekkend dat al hoe meer misdadigers snags op plase toeslaan om vee te steel en dat dié misdadigers gewoonlik gewapen is.
Volgens Buys se jaarlikse ontledings word 55% tot 60% van plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat met vuurwapens gepleeg. Die res word met ander gevaarlike wapens, onder meer messe of pangas, gepleeg.
Sy sê daar word jaarliks uitgewys dat 12% tot 19% van plaasaanvalle in die Vrystaat met veediefstal gepaard gaan waartydens groot hoeveelhede vee gebuit word. Dit gebeur gereeld dat skietgevegte tussen gewapende veediewe en die polisie plaasvind, asook konfrontasie wanneer boere die veediewe betrap.
Buys sê hoewel veediefstal as ’n eiendomsverwante misdaad beskou word, het dit ’n geweldsmisdaad geword het. “Dit bly vir ons ’n groot bron van kommer dat veediefstal ’n al hoe groter en al hoe meer georganiseerde misdaad word. Ons versoek aan die polisie is dat dit as ’n georganiseerde misdaad ondersoek moet word en ook in die hof as georganiseerde misdaad voorgehou moet word. Boere is gereeld alleen op hul plaas en uitgelewer aan groepe misdadigers wat daar opdaag.”
Sy sê die effense daling in veediefstal, minder as 1%, wat mnr. Bheki Cele, minister van polisie, op Vrydag 3 Junie aangekondig het, is nie noemenswaardig nie en dat die georganiseerde landbou se versoeke om uitgebreide misdaadsyfers al jare op dowe ore val. “Dit beteken niks vir enige gemeenskap om bloot te sê misdaad het gestyg of gedaal nie. Die misdaadsyfers skets ’n skewe prentjie ter wille van die vrystelling van statistieke.”
Buys sê daar moet nie bloot na die aantal veediefstalsake verwys word nie. Daar moet uitgebrei word oor hoeveel stuks vee gesteel is, hoeveel opgespoor is, hoeveel verdagtes in hegtenis geneem is, hoeveel veediewe suksesvol vervolg is en wat hul vonnis is. “Sulke syfers moet bekend gemaak word om duidelikheid te verskaf.”
Sy sê dit bly ’n ope vraag of die polisie die nodige kapasiteit het om veediefstal hok te slaan, want die boere in die Vrystaat sukkel gereeld om die nodige hulp by die polisie te kry.