
’n Springbokram wat eerste op die ranglys ingevolge die Safari Club International-metode (SCI) gelys is en met ’n totale horingmate van 49 5/8” spog, is teen ’n rekordbedrag van R1,55 miljoen verkoop.
Die ram Hercules (foto hieronder) geteel deur mnr. Julian Theron van Jules of the Karoo in die distrik Richmond, is op die afgelope veiling van me. Tina de Jager aan mnr. Jacques Malan van die wildplaas Lumarie verkoop.
Die rekordbedrag verbeter die R1,2 miljoen wat vir die ram Basjan in 2014 betaal is. Die mate van Hercules se linkerhoring was in Desember 2016 op die ouderdom van 3 jaar en 6 maande 17 5/8” en regs 18 ¼”.
Dit is die eerste ram met horings van 18” wat Jules of the Karoo laat opveil het. Volgens Theron het die bok die ideale vorm van die horings wat oor lengte, en buigings op die regte plekke beskik.
Hercules is ’n produk van die kruistelingprogram in Theron se Damkamp waarin Damara-genetika en Kalahari-bokke gebruik is. Dit is die derde 18”-bok uit dié projek met verskeie ramme wat horings van langer as 17” het.