
'n Rekordprys van R118 000 is vir 'n Angoraram van mnre. Billy en Fred Colborne betaal. Die Colbornes van Willowmore was gasverkopers op die Van Hasselt private Angora-veldramveiling op dié dorp.
Dié ram, waarvan die vag 31,7mikron toets, is deur mnr. Cassie Carstens van CMW aangekoop vir mnr. George Stegmann, van die Willowmore-distrik, vir sy persoonlike stoetery. Daarmee het die ou rekordprys van R111 000 vir 'n ram van Martyrsford Angoras van Jansenville, wat sedert 1985 staan, in die slag gebly.
Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder: Sybokhaar van Cape Mohair & Wool, sê die rekordprys span die kroon op 'n besondere bemarkingsjaar vir die Colbornes, wat al vyf geslagte lank met Angoras op die plaas Kilborne boer.
Die gemiddelde prys van die agt stoetramme op die veiling was R42 500 en die 74 kudderamme is teen gemiddeld R6 113 per ram verkoop.
Byskrif: Van link is mnre. Cassie Carstens (CMW); Billy Colborne (verkoper), George Stegmann (koper), Fred Colborne (verkoper), Chris Troskie (CMW) en Andre van Zyl (afslaer). Foto: CMW