
'n Voornemende kweker het onlangs R1120 per boom vir 'n lot van 250 Maluma-avokadobome van mnr. Zander Ernst van Tzaneen betaal.
Die bome is tydens die jaarlikse Malumadag by Tzaneen opgeveil waar die kopers, mnr. Peter Moolman van die Oos-Kaap en mnr. Guy Whitney van Tzaneen ál 500 bome wat deur Ernst te koop aangebied, is opgeraap het. (Video hieronder)
Avobome verkoop gewoonlik teen omtrent R150 per boom, maar daar is 'n jarelange waglys vir bome in Suid-Afrika. Boere wag tot sewe jaar vir bome om nuwe boorde te vestig. Teen normale spasiëring sal die nuwe eienaars van dié Malumabome nou net meer as een hektaar kan vestig.
Wil met avo's boer
"Ek is nog nie 'n avokweker nie, maar ek beplan om met avokado's te begin boer," het Moolman na afloop van die veiling gesê.
Die Maluma is 'n kultivar wat reeds in sy derde jaar ná aanplanting in produksie kom en die nuwe eienaars kan dus verwag om van 2020 af al 'n oes te hê. Later, wanneer die bome in vol produksie kom, kan hulle verwag om meer as 14kg vrugte per boom te oes. Dit is sewe ton avokado's of 1750 vier kilogram kartonne per jaar terwyl die vennote vir nog bome vir hul boerdery wag.
Dit is sover vasgestel kon word die eerste keer wat vrugtebome op só 'n skaal opgeveil is. Dit was bome wat vir Ernst se eie boorde bestem was, maar hy het besluit om die bome te koop aan te bied en alle geld wat meer as die standaardprys van R150 per boom verdien word gaan hy aan 'n welsynsinstansie oorhandig wat later geïdentifiseer sal word.
Byskrif van foto in die video: Van links is mnre: Edrean Ernst en, Zander Ernst van Allesbeste Boerdery, Andrew Moolman, Peter Moolman, Guy Whitney en dr. André Ernst. Allesbeste Kwekery. Dr. Ernst is in 2016 as Landbouskrywers SA se Nasionale Boer van die Jaar bekroon.