’n Rekordprys van R132/kg (vetwol) is vir ’n baal wol van 16,2 mikron op die weeklikse wolveiling in die Baai betaal.
Dié prys prys vir die baal - met ’n skoonopbrengs van 78,9% - is van die Perdeberg-boerdery, Trompsburg. Dit is 9% hoër as verlede seisoen se rekordprys van R121/kg (vetwol). Die naashoogste prys was R130/kg (vetwol) wat vir ’n baal van 16,7 mikron van Gunther-boerdery in die distrik Cradock betaal is.
Die swakker rand en klein aanbod het wolpryse op die veiling ’n hupstoot gegee en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,5% gestyg tot R96,57/kg (skoon). Dit is in teenstelling met Australië waar pryse effens teruggesak het.
Daar was goeie vraag na die 5 050 bale wat aangebied is en 98% is verkoop. Die rand was 3,5% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met verlede week.
Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verbeter met 2,2% tot R117,14/kg, 20 mikron was 2% duurder op R105,41/kg, 21 mikron styg met 1,7% tot R100,84/kg en 22 mikron verstewig met 0,5% tot R95,84/kg.
Sowat 7 500 bale kom volgende week onder die hamer.
14 September 2011