
Die vraag oor watter makelaar in die sybokhaarbedryf die hoogste prys vir hul onderskeie kliënte kan beding, het ’n interessante wending geneem toe BKB op sy openbare veiling ’n nuwe wêreldrekordprys van R751/kg behaal het. CMW het dié keer buite BKB se veiling R850/kg vir een van sy kliënte beding.
Dit was net R20/kg minder as BKB se “nie-amptelike” rekord twee weke gelede.
Die koper wat op BKB se veiling sy hand diep in die sak gesteek het, was weer New England Wool wat R751/kg betaal het vir ’n baal BSFFK van 24,6 mikron van mnr. Werner Ferreira van die Snyberg-boerdery, Uniondale.
In CMW se geval was die verkoper mnr. Barries Snijman van die Vleikuil-boerdery, Rietbron. Dit is nie bekend wie die koper was nie.
Volgens Sybokhaar SA se verslag het die mark met gemiddeld 3,7% verbeter tot R167,67/kg.
Dit is sowat 70% hoër as die pryse op die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede. Hoewel die prys van jongbokhaar en jong grootbokhaar onveranderd was, het somerkleinbokkiehaar met 3,4% gestyg en sterk grootbokhaar met ’n stewige 7,8%.
Die omset op die veiling was R11,85 miljoen. Die laaste veiling van die seisoen is op 10 Junie.