Private renoster-eienaars is bekommerd dat hulle tans vir stropers soos maklike teikens kan lyk, sê die Private Renoster-eienaarsvereniging (PROA). Mnr. Pelham Jones, die voorsitter, sê dit is verblydend dat Sanparke ’n sterker standpunt teen renosterstropers ingeneem het, maar dit maak renoster-eienaars ook bekommerd.
Verskeie stropers is reeds dié jaar in die Kruger-wildtuin in onderonsies met bewaarders doodgeskiet.
“Hul aggresiewer benadering is ’n goeie ding, maar ons is bekommerd dat dit stropers kan dwing om hulle op private eienaars toe te spits. Veral as jy in ag neem dat so baie van ons jare lank al sukkel om wapenlisensies uit die Regering te kry. Dit is so goed soos om die stropers met pepersproei te beveg,” sê Jones.
’n Renoster elke 31 uur
Jones sê hulle is ook bekommerd daaroor dat 51 renosters reeds dié jaar deur stropers doodgemaak is. Hy sê dit strook met die statistiek van verlede jaar, toe 333 renosters, een elke 26 uur, doodgemaak is. Dié statistiek vir die tyd wat reeds vanjaar verloop het in gedagte, beteken dat ’n renoster elke 31 uur doodgemaak word.
Pelham meen vanjaar se aantal voorvalle die 38 kriminele sake wat tans teen renosterstropers in die land se howe voorkom, is ’n duidelike teken dat wetlike optrede en die vervolging van stropers nie streng genoeg is om mense van dié misdaad af te skrik nie.
Grensheining
Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, sê sedert Januarie 2010 is 182 renosters reeds in die Kruger-wildtuin doodgemaak, en 110 van dié voorvalle het naby die oostelike grens voorgekom.
Die minister sê dit is duidelik dat kriminele elemente die bio-diversiteitsooreenkoms, waarvolgens die grensheining tussen Mosambiek en Suid-Afrika verwyder is, uitbuit. Sy sal dié probleem met die samewerking van haar eweknie in Mosambiek probeer oplos.
Molewa sê hulle beoog om sekerheidmaatreëls ten opsigte van renosters en ook by alle punte waar stropers en sindikate toegang tot die land kan kry, op te skerp. Sy vra ook die publiek se hulp om stropers te ontmasker en die situasie te verbeter.
7 Maart 2011