
“As die Chinese renosterhoring wil hê, moet ons dit aan hulle voorsien,” reken mnr. Gerrit van Rensburg, die Wes-Kaapse minister van landbou.
Hy het Woensdag (25 Januarie 2012) op Landbouweekblad se Landbou-ekspo by die 129ste Worcester-skou gesê die situasie met renosterstropery maak hom onrustig.
“Dit het dalk tyd geword dat ons die vrye mark moet toelaat om die renoster te beskerm. As sy natuurlike omgewing hom nie kan beskerm nie, is ek oortuig die ekonomie kan dit doen,” het Van Rensburg aan die sowat 130 boere gesê wat die geleentheid bygewoon het.
“Ons moet boere toelaat om met renosters te boer, soos wat met buffels en swartwitpense geboer word.” Hy sê dié diersoorte was ook op die rand van uitsterwing, maar danksy boerdery is die situasie nou heeltemal omgekeer.
“Dit is nie ons werk om die Chinese te oortuig renosterhoring werk nie. As die Chinese renosterhoring wil hê, moet ons dit aan hulle voorsien. Dit is 'n markgeleentheid wat by ons verbygaan. Nie net is dit 'n geleentheid vir ons nie, maar dit sal ook veroorsaak dat die renoster nooit uitsterf nie.”
25 Januarie 2012