Twee Viëtnamese jagters het Maandag (31 Januarie), in die hof verskyn nadat vier renosterhorings in hul besit gevind is.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com het die twee mans permitte vir jag in hulle besit gehad, maar nie permitte vir die horings nie.
“Die Polisie het op 29 Januarie inligting ontvang van 'n wettige jagtog wat op 'n plaas in die Musina-gebied plaasvind. Misdaadintelligensie-beamptes het die plaas besoek en vasgestel dat geldige permitte om te jag in die besit van die boer is," aldus brig. Sally de Beer.
Op lughawe deursoek
Volgens De Beer se verklaring het die boer die twee jagters later na die Wonderboomlughawe geneem, waar hulle in die vertreksaal deursoek en die horings in hulle besit gevind is.
Sy sê hoewel die jagtog wettig was en die boer wettige permitte in sy besit gehad het, was die verwydering van die horings onwettig.
"Die renosters en horings moet in die besit van die boer of professionele jagter wees. Die skouers, kop en horings moet deur 'n taksidermis gemonteer word en 'n skyfie moet in die horing geplaas word voor dit vervoer word."
Die jagters het in ‘n Gautengse hof verskyn, terwyl die boer as deel van ‘n opvolgondersoek deur die Valke ondervra sal word.
Bron: Nuus24.com
1 Februarie 2011