
Die hoof van bewaringsdienste van SANParke is glo geskors weens eensydige kontrakte met natuurreservate en jagplase in die Noord-Kaap vir die verkoop van 250 van die Kruger-wildtuin se renosters, berig Volksblad.
'n Raadslid van SANParke het bevestig dit was die rede vir dr. Hector Magome se skorsing in Junie. Dit kom nadat me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, gesê het SANParke oorweeg dit om 500 renosters vir hul eie veiligheid uit die wildtuin te verskuif.
Volgens Volksblad was bewaringsorganisasies erg ontstoke omdat die 250 renosters aan jagplase beloof is. Magome het vandeesweek erken hy het ooreenkomste met Kalahari Oryx, Wintershoek Safaris en Steyn Safaris vir die verkoop van die diere.
Al drie dié natuurreservate adverteer jagkonsessies en vertoon foto’s van jagters met hul trofeë of met vuurwapens op hul webblaaie. Min inligting is beskikbaar oor enige bewaringsaksies, maar volgens Magome is die reservate ingestel op die bewaring van renosters.
Bron: Volksblad.