
Renosterstroping en die situasie waarin die spesie homself bevind veroorsaak ‘n drastiese daling in die diere se waarde aldus die Private Rhino Owners’ Association (PROA).
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die PROA, sê renosters, wat gemiddeld R350 000 per dier werd is, is in sommige gevalle al vir twee derdes minder verkoop.
Sowat 300 van die diere is vanjaar reeds in Suid-Afrika doodgemaak. Jones verwag dat dié syfer teen die einde van 2011 te staan gaan kom op meer as 1 000 renosters wat sedert 2009 doodgemaak is.
“Ons word deur ’n reuse-probleem in die gesig gestaar, want private eienaars het nie genoeg geld om hul diere doeltreffend te beskerm nie. Derhalwe verkoop baie van hulle hul diere en sodoende word die natuurlike habitat wat vir dié diere beskikbaar is, al hoe kleiner,” sê Jones.
’n Driehoek
Volgens Jones is die bedryf se vraag-en-aanbod-driehoek besig om te kraak en sal daar vinnig opgetree moet word om ’n ineenstorting te voorkom.
“Sanparke steun swaar op die private sektor om hul oortollige diere aan te koop. Die nodige beskermingsdienste word egter nie aan die private eienaars verskaf nie, wat lei tot ’n daling in beleggingswaarde. En die verkoop van die diere deur private eienaars beteken dat Sanparke nie meer ’n afsetmark gaan hê nie,” verduidelik Jones.
’n Voorbeeld van swak dienslewering is die gesloer met die uitreik van wapenlisensies. Jones sê hy wag self al vier jaar lank vir sy lisensies om uitgereik te word ten spyte van die feit dat dit reeds goedgekeur is.
“Ek vra weer, soos by verlede jaar se renosterberaad, hoe moet ’n mens teen stropers optree met pepersproei?”
Horings
Jones sê die Endangered Wildlife Trust is besig met navorsing om te bepaal of verwydering van ’n renoster se horings deur sy eienaar die dier se kanse op oorlewing sal verhoog.
“Ons het wel al voorbeelde gesien waar die dier steeds doodgemaak is vir die paar sentimeter horing wat oorgebly het. Dit wil voorkom of die stropers nie omgee of hule 2 kg of 5 kg se renosterhoring kan kry nie, solank hulle net iets kan kry,” aldus Jones.
Die PROA is besig om met die staat te onderhandel oor ’n insiatief waarvolgens jong polisiereserviste, of diegene wat belang stel in wildbewaring, by private reservate opleiding ontvang wat deur die staat gefinansier word.
23 September 2011