’n Wildboer wat Sondag (15 Januarie 2012) ’n renoster weens stroping verloor het, het ’n reuse-beloning uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die aankeer en vervolging van die skuldiges.
Luidens ’n berig op Nuus24.com is die karkas van ’n vyfjarige bul Maandag (16 Januarie 2012,) op mnr. Kobus Crous se plaas Bergsig naby Hartenbos in die Wes-Kaap gevind.
“Ek bied ’n beloning aan van R100 000 vir enigiemand met inligting oor die stropers. Iemand moet tog iets weet en ek wil dit die moeite werd maak vir mense om die inligting te verskaf,” aldus Crous.
Mak diere
Crous sê die renosterbul en -koei wat in die kamp geloop het, is op die plaas gebore. “Hulle was die eerste renosters wat hier gebore is en was baie na aan my hart. Hulle was mak en het altyd nuuskierig nader gekom as ’n mens naby hulle stilhou.”
Die dier is na verwagting op ’n kort afstand met ’n verdowingspyl geskiet. Nog geen bewyse van dié pyl, en of ’n koeël in die bul se kop of lyf is nog gevind nie. Die middel wat gebruik word om dié diere te verdoof, kan net deur ’n veearts verskaf word. Dit word vermoedelik ook in die sluikhandel verkoop.
Enigiemand met inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die skuldiges kan die ondersoekbeampte, ao. Boet Olckers, by (071) 351 7450 bel.
* ‘n Video wat die naakte waarheid van renosterstroping ontbloot, het die internet behoorlik op hol. Kyk die video hier.
Bron: Nuus24.com
18 Januarie 2012