Suid-Afrika het die afgelope drie jaar ‘n verlies van R200 miljoen weens stropery onder renosters gely, sê die Private Rhino Owners’ Associasion (PROA).
Mnr. Pelham Jones sê saam met die renosters wat die afgelope naweek vir hulle horings doodgemaak is, staan die dodetal vir dié tydperk op 590.
Volgens Jones het die Kruger Nasionale Wildtuin (KNP) die ergste deurgeloop. Wildreservate en private wildplase in KwaZulu-Natal is die tweede ergste geraak, met Limpopo kort op hulle hake. In Noordwes is 65 renosters doodgemaak, met een arrestasie in dié tydperk.
Die “voetsoldate”
Jones sê dit lyk of die “voetsoldate” betrokke by stropery nie juis deur die ophef rondom die arrestasies en oopvlek van sindikate geraak word nie. Die “voetsoldate” het onverpoosd voortgegaan, veral in die Kruger Park. In Noordwes en Limpopo was dit ‘n rukkie stil, maar net vir ‘n paar weke.
Wat 2010 se statistiek aanbetref, is 117 renosters al in die KNP doodgemaak en 48 in Noordwes. Me. Bulyewa Sonjica, die voormalige Minister van Waterwese en Omgewingsake, het tydens haar nasionale renosterberaad in Oktober 2010 aangekondig dat 232 renosters tot dan reeds gedood is. Luidens ‘n berig op News24.com is ‘n totaal van 122 renosters in 2009 vir hulle horings doodgemaak.
Drie doodgemaak
Jones sê die afgelope naweek is drie renosters, twee op ‘n wildplaas in Noordwes en een op ‘n wildplaas in Limpopo, doodgemaak. Ná die voorval in Limpopo is een van vier verdagte stropers aangekeer. Jones sê kort nadat die renoster se karkas Saterdagoggend ontdek is, het ‘n span van die Polisie en die gemeenskap na die verdagtes begin soek.
“Dit was natuurlik moeilik om hulle te agtervolg, aangesien die verdagtes in vier verskillende rigtings gevlug het, wat groot logistieke uitdagings veroorsaak het. Laat Saterdagmiddag is twee van die mans gewond, waarna een aangekeer is. Drie van die mans is dus steeds op vrye voet,” vertel Jones.
Gemeenskap en samewerking
Jones moedig private renostereienaars aan om deel te raak van veiligheidsforums in hulle gemeenskappe.
“Ons gaan slegs hierdie stryd wen as ons mekaar ondersteun en help. Ná so ‘n voorval het jy ondersteuning op die grond en in die lug nodig. Jy moet deel raak van ‘n veiligheidsaksie as jy jou diere wil bewaar,” meen Jones.
15 November 2010