Dit is tragies dat ’n renoster gevrek het in ’n teenstropingeksperiment om die spesie te probeer red, sê die Vereniging vir Private Renostereienaars (PROA).
Luidens ’n berig op Nuus24.com het die Renoster-reddingsprojek Donderdag (9 Februarie 2012), aangekondig dat ’n renoster in ’n demonstrasie van ’n teenstropingsbehandeling gevrek het.
Spencer, die renoster, is dood nadat veeartse ’n middel toegedien het om hom by te bring ná ’n mikroskyfie en opsporingtoestel in sy horing geplant is.
Me. Lorinda Hern, woordvoerder, sê: “Hy het baie goed gereageer op die behandeling en die prosedure is 100% veilig, maar daar is altyd reuse-risiko’s wanneer so ’n groot dier verdoof word.”
Die eksperiment het onder narkose plaasgevind. Die dier het vermoedelik ’n hartprobleem gehad, en die teenmiddel wat vir die narkose gebruik is, het moontlik tot hartversaking gelei.
Hartseer
Hern sê hulle is ontsteld oor Spencer se dood, en dat stropers ’n moeilike situasie vir die behoud van dié spesie veroorsaak. Die meeste teenstropingsbehandeling vereis narkose, en dít hou risiko’s vir die dier in.
Intussen sê mnr. Pelham Jones, voorsitter van die PROA, dit is jammer dat stropers ’n situasie in die land veroorsaak waar mense na talle onkonvensionele maniere moet soek om renosters se voortbestaan te probeer verseker. Hy sê dit is moeilik om te weet hoe ’n dier op narkose of enige ander verdowingsmiddel gaan reageer. “Selfs as hy met ’n kalmeermiddel ingespuit is, kon hy gevrek het.
“Dit is ’n groot tragedie dat mense so ver moet gaan om te probeer om ’n spesie te beskerm,” sê Jones. Me. Selomie Maritz, ’n renostereienaar van Limpopo, stem saam dat die voorval hartseer is: “Ons kan nie diere se lewe in gevaar stel omdat daar ’n 100 mediakameras is wat iets wil afneem nie.”
Bron: Nuus24.com
10 Februarie 2012