
Met nóg ’n renosterkalf wat in Suid-Afrika wees gelaat is, word oor die suksesverhaal van ’n renosterwesie in Zimbabwe op die internet berig.
Luidens ’n berig in Beeld (10 April 2012) is ’n maand oue renosterkalf die afgelope naweek by sy ma se karkas gevind.
Dié renoster, Big Bertha, is na bewering 164ste een wat vanjaar deur stropers in Suid-Afrika doodgemaak is. Sy was nege jaar oud en is tydens volmaan in die Dabchick-natuurreservaat doodgemaak.
Jimmy
Intussen versprei mnr. Nico Nel, woordvoerder vir Rhinorag, die verhaal van Jimmy, ’n renosterwesie wat sowat vier jaar gelede in ’n woud in die Jurus-omgewing in Zimbabwe gevind is nadat sy ma deur stropers doodgemaak is.
Hy was sedert April 2007 in die sorg van mnr. Roger Whittall en sy vrou, Anne, op hul plaas Humani in die Save-bewaargebied.
Jimmy was na verwagting sowat vier dae alleen in die woud voor hy gevind is. Die dier het homself in dié tyd vermoedelik leer water drink, aangesien hy nie meer aan sy ma kon drink nie.
Jimmy het met sy aankoms op Humani 50kg geweeg. Hy het die eerste paar dae sowat 8 liter koeimelk gedrink voordat vir hom ’n mengsel van renostermelk bekom is.
Hy is nou ’n volwasse renosterbul wat ná hy deur die Whittalls grootgemaak is, suksesvol in die natuur vrygelaat is. Kyk hier na 'n foto-album van Jimmy.
10 April 2012