
Die omset van die veiling van volbloed jaaroud-vullens in Kaapstad was R120 miljoen. Altesaam 187 van die 200 vullens wat op dié unieke veiling in die Kaapstadse Konferensiesentrum (KIKS) aangebied is, is teen 'n gemiddeld van R644 118 verkoop.
(Die omset van die 2014-veiling was R103 miljoen. Altesaam 180 vullens is toe teen gemiddeld R572 361 verkoop. Die hoogste prys was toe R3,2 miljoen.)
Op vanjaar se veiling het 'n wildboer van Rustenburg, mnr. Piet du Toit, die renperdbedryf se oë laat rek toe hy 'n Suid-Afrikaanse rekordprys van R5,2 miljoen betaal het vir die vul, Shining Knight, van Maine Chance Farms van Robertson. Die vul is uit die vaar Dynasty en Shina (Duitsland).
Die tweede hoogste prys vanjaar was R4 miljoen vir die hingsvul, Moonrise Sensation, van die Oldlands-stoetery, Hermanus. Die koper was Amanda Skiffington, 'n bekende agent in die Britse renperdbedryf.
Die Klawervlei-stoetery van Bonnievale het die meeste vullens verkoop, naamlik 53, teen 'n omset van R34,9 miljoen. Highlands van Roberston het 21 vullens teen 'n omset van R19,5 miljoen verkoop. Dit was die tweede meeste vullens deur een stoetery.
Die vaar Dynasty was die ander ster van die veiling. Altesaam 17 jaaroud-vullens waarvan hy die vaar is, is teen R24 miljoen van die hand gesit.
* Die 2015 Cape Premier Yearling Sale is oor twee dae deur die Cape Thorougbred Sales© en AgriExpo in die KIKS aangebied.