
Die verhoging in die rentekoers sal vir eers 'n beperkte invloed op landbou hê, sê mnr. Nico Groenewald, hoof van landbousake by Standard Bank.
Die Monetêre Beleidskomitee het op 29 Januarie besluit om rentekoerse met 50 basispunte verhoog, wat die repokoers op 5,5% te staan bring en die primarentekoers op 9%.
Groenewald sê die styging sal vir boere 'n klein styging in terugbetalings beteken en sal nie op kort termyn 'n beduidende invloed hê nie.
Hy sê die styging in die rentekoers moet tesame met die verswakking in die rand beskou word, wat vir boere met uitvoerbedrywighede op kort termyn voordele kan inhou.
Dit is egter belangrik dat boere nou in ag moet neem dat die rentekoers klaarblyklik 'n draaipunt bereik het en dat nog stygings kan volg. Wanneer dit gaan gebeur, sal deur verskeie faktore bepaal word.
Bly op die hoogte
Groenewald sê boere se kapitaalvervanging kan benadeel word deur hoër rentekoerse en 'n verswakkende rand omdat die meeste van hierdie toerusting ingevoer word. Boere moet op die hoogte bly van wat in die res van die wêreld gebeur, veral in ontluikende lande, omdat sake 'n soortgelyke verloop in Suid-Afrika kan neem, sê hy.
Me. Lindie Stroebel, bestuurder van ekonomiese inligting by die landbousakekamer Agbiz, sê die Reserwebank se hoofverantwoordelikheid is om inflasie onder beheer te hou en dat voortdurende opwaartse druk op inflasievooruitsigte tesame met die verswakkende rand die bank se besluit sou beïnvloed het.
“Inflasie was sedert einde 2011 aan die boonste kant van die inflasieteikenreeks van 3%-6%, wat die meeste ekonome laat besef het dat rentekoerse in reaksie hierop verhoog kon word. Omdat ekonomiese groei en verbruikerswelstand steeds onder druk was, het baie min ekonome egter verwag dat die verhoging so gou sou wees.”
Stroebel sê die Agbiz/IDC-indeks vir landbousakevertroue het getoon hoër finansieringskoste kan in die vierde kwartaal van vanjaar verwag word, grootliks weens laer beskikbaarheid van krediet aan hoërrisiko-ondernemings soos landbou. “Die Reserwebank het 'n verlies aan momentum in die groei van kredietverlening aangedui, wat, tesame met die verhoging in rentekoerse, verdere druk op die sektor vir landboufinansiering sal plaas,”sê sy.