Die feit dat rentekoerse steeds laag is en nie vandeesweek deur die monitêre beleidskomitee aangepas is nie, is baie goeie nuus vir die landbou, sê ’n ekonoom. Mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa Agribesigheid, sê ’n repo-rentekoers van 5,5% beteken dat kapitaal-investering in nuwe tegnologie en so meer vir boere en landbou-ondernemings moontlik is.
“Met die huidige internasionale kommoditeitspryse en volumes skilder dit ’n baie gunstige prentjie vir die landbou. Dit verlig ook lewenskoste deur die loop van die jaar vir boere,” sê ’n optimistiese Janovsky.
Me. Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank, het Donderdag (24 Maart) aangekondig dat rentekoerse vir eers onveranderd bly. Die prima rentekoers staan tans op 9%.
Kommer oor rand
Janovsky sê met die aanduidings dat rentekoerse teen die einde van die jaar weer kan begin styg, is hy wel bekommerd oor die verlangsamende uitwerking van huidige wêreldgebeure op die ekonomie, wisselkoers en gevolglik rentekoerse.
“Ons enigste onbekende faktor is tans die rand. Ons het dit met 9/11 gesien. Die rand was vir nege, tien maande daarna nog sterk, en tóé het dit eers weens die situasie begin verswak. Die onluste wat tans in die noorde van Afrika en in die Arabiese lande voorkom, die invloed daarvan op die olieprys en die gebeure in Japan se latere invloed op die rand bekommer my,” verduidelik hy.
25 Maart 2011