
So het me. Nicky Weimar, ’n ekonoom van Nedbank op Vinpro se inligtingsdag, gesê. Sy voeg by dat vooruitsigte vir 2015 heelwat beter is – al is die meeste van die probleme van 2014 steeds met die land. “Die lae olieprys maak my egter verskriklik opgewonde.”
Waar 2014 se groei onder 2% was, kan ’n groeikoers van 2,5% vanjaar moontlik wees. “Die belangrikste prioriteit vanjaar is egter om ‘die liggies in die land aan te hou’. Suid-Afrika en Eskom is in groot moeilikheid en groot vernuwings is nodig – waaronder die voltooiing van die Majuba-kragsentrale.”
Die laer olieprys, wat sedert Junie 2014 met 60% gedaal het, se invloed moet nie onderskat word nie. Daar is baie konflik in die olieproduserende Midde-Oosterse lande, en die wenner van die laer oliepryse wat gedeeltelik daaruit vloei, is Europa, Amerika, Japan en ook lande soos Suid-Afrika. Die verloorders is die lande wat op ’n hoër olieprys aangewese is – waaronder Nigerië.
“Die grootste voordeel is dat, behalwe dat dit geld in die verbruiker se sak plaas, Suid-Afrika sy geweldige tekort op sy lopende rekening dalk kan afbring van 5,8% tot ’n meer aanvaarbare 4,5%. Dit kan ook rentekoerse vir langer op die huidige vlakke hou.”
Weimar het gesê die vermoede is dat rentekoerse vir langer as wat verwag is, laer gaan bly in Suid-Afrika – “dit kan selfs wees dat geen verandering daaraan gemaak sal word vanjaar nie”.
Ietwat van ’n bekommernis vir talle lande – waaronder Suid-Afrika – is die stadiger groei van die Chinese ekonomie. Baie lande, ook Suid-Afrika, voer baie kommoditeite uit na China, en die stadiger groei van dié reus kan sekere uitvoere benadeel. Tog bestaan daar baie onsekerehede in die wêreldekonomie, wat akkurate voorspellings bemoeilik.
Sy meen die Regering sal vanjaar meer daadwerklik geld in die opbou en herstel van die infrastruktuur steek, waaronder die elektristeits-netwerk.