
Te midde van die nuus dat Suid-Afrika se ekonomie nou amptelik in ’n resessie verkeer, bly ons landbou ’n baken van hoop.
Dié sektor het in die eerste kwartaal van vanjaar verreweg die grootste bydrae gelewer tot die bietjie groei in bruto binnelandse produk (BBP), en het vir die eerste keer sedert 2014 positiewe groei getoon.
Boonop lyk die sektor se ekonomiese vooruitsigte vir die tweede kwartaal nóg rooskleuriger, sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die sakekamer Agbiz.
Landbou, mynbou groei
Volgens Statistieke SA het die Suid-Afrikaanse landbou in die eerste kwartaal van 2017 met 22% gegroei. Die mynbou het met 12,8% gegroei, en die res van die sektore van die nasionale ekonomie het almal ingekrimp. Die grootste skade was in die handel-sektor, wat met amper 6% gekrimp het.
Sihlobo skryf die goeie landbou-groei aan hoofsaaklik rekord-oeste van mielies en sojabone toe, asook ’n sterk herstel in die produksie van vrugte en groente. Die verwagte totale oes van somergrane en –oliesade is amper dubbeld so veel as verlede jaar se droogtegeknelde oeste.
Sihlobo wys daarop dat hierdie verbeterings in oeste grootliks in die tweede kwartaal se BBP-statistieke weerspieël gaan word, namate oeste tot Augustus ingesamel word.
Voortuisigte goed
Agbiz voorspel voorts groeiende optimisme en gepaardgaande groei in die Suid-Afrikaanse landbousektor vir die res van die jaar. Tekenend hiervan is nuutgevonde optimisme in die mark vir trekkers en landbou-werktuie. Sihlobo sê 493 eenhede is in Mei verkoop, wat amper ’n kwart meer as die vorige maand is, en 17% meer as dieselfde tyd verlede jaar.
Landbou-ekonome stem saam dat ekonomiese groei in die landbou ’n welkome stut aan Suid-Afrika se nasionale BBP verskaf. Prof. Johan Willemse wys daarop dat die landbou in sy geheel, beide primêr en sekondêr, naby aan ’n vyfde tot die nasionale BBP bydra.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van die produsente-organisasie Graan SA, sê in ’n ontwikkelde ekonomie soos dié van Suid-Afrika sal die primêre landbou se bydrae tot die nasionale BBP altyd relatief klein wees, maar saam met die sekondêre bedryf kan dit saam met die mynbou-sektor ’n reuse bydrae lewer, veral in die skep van werkgeleenthede vir ongeskooldes, waar die grootste behoefte lê.