
Grondhervorming en restitusie fokus op die herverdeling van grond. Dit het niks te doen met volhoubare voedselproduksie nie.
Dít is die mening van mnr. John Kane-Burman, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.
Hy was een van die sprekers op die FW de Klerk-stigting se konferensie oor die land se beleidsrigtings in Johannesburg. “Grondhervorming het niks te doen met voedselproduksie nie. Dit het niks te doen met die landbou nie.”
’n Hoë werkloosheidsyfer is volgens Kane-Burman een van die gevolge van dié situasie.
Era van skisofrenie
Volgens Kane-Burman is dit duidelik dat die staat sy brood aan albei kante gebotter wil hê. Aan die een kant fokus dit op die sogenoemde demokratiese revolusie en om met byvoorbeeld met private eiendomsreg en die ekonomie in te meng. Aan die ander kant soek dit ook ’n lewendige en onafhanklike ekonomiese sektor.
“Hierdie skisofrenie is ’n karatertrek van die hele Regering. En ek verwag dat ons dit vir die volgende vyf tot tien jaar nog gaan sien.” Hy sê dié situasie gaan nadelige gevolge vir die ekonomie en die land hê.
Ná die tydperk, wat as die tweede oorgangstydperk beskryf word, sal ’n derde oorgangstydperk volg, waartydens Kane-Burman verwag dat die ANC gedwing sal word om terug te keer na neo-liberalisme.