Die restitusieproses is waarskynlik een van die grootste mensgemaakte rampe wat Suid-Afrika sedert die Anglo-Boereoorlog getref het, meen dr. Theo de Jager, adjunk-voorsitter van Agri SA.
De Jager was ‘n spreker by die 22ste herdenking van oud.pres. FW de Klerk se toespraak wat die weg gebaan het vir Suid-Afrika se grondwetlike transformasie.
Op altesaam 13 000 plase wat in die Staatskoerant geadverteer is, is grondeise, sê hy. Wanneer plase ge-“gazette” word, wil boere nie verder geld daarin belê nie. Dit is bekend dat 30% van die grond wat die Regering vir restitusie aangekoop het, weer terug aan wit boere verkoop is.
Die Regering wil nie markwaarde vir die grond betaal nie, het De Jager gesê. Die Grondwet verseker vergoeding, nie markwaarde nie. Hy het gesê sedert Augustus 2007 betaal die Regering slegs 60% van markwaarde vir die plase wat hy vir restitusie bekom. De Jager meen die Regering se aankope van grond en die verhuring daarvan aan swart boere is 'n sagte vorm van nasionalisering.
Twee soorte boere in RSA
Hy voorspel dat die land in die nabye toekoms twee soorte boere sal hê: Grootskaalse wit boere aan die een kant en swart boere wat grond van die Regering huur. Intussen het Agri SA begin om 'n plan saam te stel om te keer dat die land nie dieselfde pad as Zimbabwe loop nie. Die georganiseerde landbou kan dien as die agente vir die implementering van beide grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Hy stel voor dat die Staat grond by 'n gewillige koper teen 65% van die markwaarde koop, en dit dan vir 35 jaar aan die boer verhuur teen 1% van die markwaarde met die verwante inflasie per jaar.
"Ons vra onsself wat kan ons anders as Zimbabwe doen terwyl ons die geleentheid het? Ons het twee opsies. Ons kan konfronterend wees en samewerking weerhou, verder polariseer, die Staat ondermyn en inisiatiewe soos restitusie of die verdeling van grond verswak, óf die roete van konstruktiewe samesprekings en beter samewerking volg."
Mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en ekonoom, het De Jager aangepor om eerder die konfrontasie-roete te volg en om die hulp van vakverbonde soos Cosatu in te roep. Hy het ook uitgewys dat die plaaswerker die boer se bondgenoot in dié stryd is, want hy word ook geraak wanneer die boer nie meer werk aan hom kan verskaf nie.
3 Februarie 2012