
Die restitusieprogram is inderdaad ‘n goeie storie om te vertel sedert die proses in 1994 afgeskop het, sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte het sy 2013/’14-jaarverslag by die Parlement ingedien.
In die voorwoord van die verslag sê Nkwinti dat ‘n programgedrewe benadering eerder as ‘n projekbenadering gevolg word om die maatskaplike ongelykhede te herstel van gemeenskappe wie se grond deur onderdrukking en diskriminerende wette en beleid onteien is.
Hy sê die kommissie het al 77 610 eise afgehandel, wat uitloop op 3,07 miljoen hektaar ten bedrae van R17 miljard. Finansiële vergoeding van R8 miljard is aan 1,8 miljoen begunstigdes betaal, wat 371 140 huishoudings tel. Altesaam 138 456 van dié huishoudings het vroue aan die hoof. Daar is ook R4,1 miljard aan begunstigdes van grond toegestaan vir ontwikkelingsbystand.
Nkwinti sê die totale koste van die restitusieprogram sover is R29,3 miljard.
Die Wysingswet op die Herstel van Grondregte lê nog by pres. Jacob Zuma om geteken te word.
Nkwinti sê dat die goedkeuring van die wetgewing deur die Parlement ‘n beduidende stap is om die restitusieprogram te verleng sodat die eiseproses vir vyf jaar oopgestel kan word.
Me. Nomfundo Gobodo, hoofgrondeisekommissaris, sê in die 2013/’14-boekjaar is 270 “nuwe” eise, waarvan 47 landelike en 223 stedelike is, afgehandel en 30 eise was afgewys. Die resultaat van die afhandeling van die eise was dat sowat 68 000 ha grond teen R1,6 miljard toegestaan is en R478 miljoen is as vergoeding uitbetaal. Die totale koste vir die finansiële jaar was net meer as R2 miljard.
Gobodo sê indien die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte van krag word, sal die nuwe eise op ‘n elektroniese stelsel tot 30 Junie 2019 gedoen word.