
Om restitusie werklik gestand te doen, moet dit van ’n “vyfjaar-projek” na ’n eindelose program verander word, meen mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Hierdie is een van die voornemens van die Regering om gestalte te gee aan sy plan vir radikale ekonomiese transformasie rakende grondhervorming. Om die bal aan die rol te sit om restitusie goedkoper te laat geskied, het Nkwinti reeds aangedui dat ondersoek ingestel sal word na wat “billike diskriminasie” in die Grondwet beteken.
Indien ’n praktiese verklaring hieroor in die Grondwet verskyn, wat dit moontlik maak dat grond vir restitusie sonder vergoeding onteien kan word, sal grondwetswysigings moontlik onnodig wees. “Ons implementeer dan net die beginsel van billike diskriminasie wanneer grond toegestaan word.
“Dit is waar jy sal vind dat ons dalk die roete van onteiening sonder vergoeding mag gaan, maar dit alles sal binne die beperkinge van die Grondwet gebeur,” verduidelik Nkwinti.
Ewigdurende restitusie
Volgens Nkwinti lê die swakheid van restitusie in die feit dat dit ’n projek is. Indien dit ’n program is hoef dit nie gesien te word as “iets wat môre voltooi moet word” nie.
“As jy die idee van ’n projek wegvat en dit word ’n eindelose program van restitusie waar grondregte aan ons mense herstel word, dan kan daar op ’n regverdige manier gehandel word. As jy diskriminasie toepas, moet dit billike diskriminasie wees. Dis waaroor dit gaan.”
Hy sê dis daarom ook belangrik dat die Nasionale Grondeisekommissie herontwerp en na ’n Artikel 9-instelling verander word. Bekende Artikel 9-instellings is die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Openbare Beskermer en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Dié soort instellings is slegs onderhewig aan die Grondwet en die wet.
Onduidelik
Me. Annelize Crosby, regs en grondbeleidsadviseur vir Agri SA, sê Artikel 25 van die Grondwet praat nêrens van “billike diskriminasie” nie. Dit praat slegs van billike en regverdige vergoeding. Artikel 9 van die Grondwet (die gelykheidsklousule) bevat die term “onbillike diskriminasie”, maar dit is nie duidelik wat dit met vergoeding by onteiening te make het nie.
Restitusie is reeds nie net ’n vyfjaar-projek nie en duur al meer as 20 jaar. “Die Regering self het op ’n stadium begin om spertye vir die afhandeling van restitusie te stel. Dit is bekend dat landbouers se grootste kommer rondom restitusie die onsekerheid is wat onafgehandelde eise meebring en die dat dié onsekerheid negatief inwerk op belegging in die landbou.”
Crosby sê in daardie opsig sal ’n ewigdurende restitusie-proses baie sleg wees vir die sektor en enige sprake van die neem van grond sonder behoorlike vergoeding sal ’n rampspoedige uitwerking op die sektor hê.