Afskrifte van die Wes-Kaapse restitusieleêrs is op ’n straathoek in Guguletu, Kaapstad gevind.
Dit het die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming genoop om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) van mnr. Willie Hofmeyr in te roep. Die Wes-Kaap het die meeste geldelike restitusie-eise in die land.
Mnr. Michael Worsnip, die nuwe hoofdirekteur vir restitusie-ondersteuning in die Wes-Kaap , het gesê ’n lid van die publiek het Saterdag (10 September) die Wes-Kaapse grondeisekantoor ingelig dat afskrifte van die dokumente op die hoek van NY 52/50 in Guguletu is.
Afskrifte
Amptenare van die departement het die dokumente gaan haal, waarna gevind is dat dit nie die oorspronklike dokumente is nie, maar afskrifte. Worsnip het ’n klag van diefstal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig gemaak. Dokumente mag nie die restitusiekantoor verlaat sonder sy toestemming nie.
“Die motief vir die kopiëring, verwydering en weggooi van die leêrs is nog onbekend.” Hy het egter bygevoeg dat dit moontlik ’n diensverskaffer was, of ’n beampte van die departement wat dit daar weggegooi het.
Dit bly egter ’n ernstige sekerheidsbreuk, het hy gesê. Die meeste van die leêrs is van eise wat reeds afgehandel is.
Mnr. Bethuel Sadiki, sekerheidsbestuurder by die departement, het aangedui dat sekerheidsmaatreëls sedert Maart vanjaar by die Wes-Kaapse kantore verskerp is. Altesaam R5,5 miljoen word jaarliks aan die dienste bestee. “Dit is onbekend
of die leêrs voor of na Maart uit die gebou verwyder is.”
Teen 2013 afgehandel?
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het vroeër vanjaar in sy begrotingsrede aangedui dat restitusie-eise waar geldelike vergoeding verkies word, asook dié wat op staatsgrond is, in die 2012-’13 boekjaar afgehandel moet word.
Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het gesê ’n sekerheidsbreuk kan daartoe lei dat die eise nie betyds afgehandel kan word nie. “Maatreëls is nou gereed om te verseker dat die finalisering van die eise nie gekompromitteer word nie.”
Die departement se interne ouditeenheid, sy sekerheidsbestuurseenheid en die SOE sal in detail ondersoek doen na die voorval om te verseker dat die eisproses sonder enige bedrog kan voortgaan.
Lees ook: Gedagtes oor grondhervorming.
15 September 2011