
Die voerkraalbedryf trek tans swaar weens ’n reuse-vraag na speenkalwers. Volgens mnr. Hein Volgraaff, hoof van BKB in die Wes-Kaap, is dié situasie toe te skryf aan ’n sameloop van omstandighede.
“Die droogte in die noorde van die land, wat boere gedwing het om van baie teeldiere ontslae te raak, is gebreek.
"Nou begin boere weer diere koop om hul kuddes op te bou. Voeg daarby die goeie mielie-oes wat die mieliepryse laat daal, en dit veroorsaak groter mededinging tussen voerkraaleienaars – wat bereid is om meer vir diere te betaal omdat dit goedkoper is om hulle mielies te voer – en boere wat hul kuddes opbou.”
Prys van speenkalwers klim
Hy sê op 25 Julie is speenkalwers teen sowat R30/kg tot R31/kg lewende gewig verkoop. Redelike vet koeie is vir R22/kg tot R22,30/kg lewende gewig verkoop. Hulle slag uit teen sowat R44/kg. Hy sê die pryse van speenkalwers het in die afgelope maand of twee met gemiddeld sowat 10% geklim.
Volgens mnr. Casper Labuschagne, ’n Merinoboer van Jamestown in die Oos-Kaap, het graad C-ooie in sy omgewing vir R65/kg aan die hak verkoop en lammers teen R78/kg of R79/kg. Beesvleispryse was R42/kg aan die hak en R35/kg vir speenkalwers. ’n Boer in sy omgewing het verlede week R45/kg vir stoorlammers gekry, R80/kg vir slaglammers en R65/kg vir ou ooie.
Die Namibiese boerderytydskrif Agriforum berig speenkalfpryse was daar ook die hoogste nog vanjaar, teen R25,87/kg.
Mielieboere het stopplebeweiding
Volgraaff sê die meeste mielieboere het vanweë hul goeie oeste baie stoppelbeweiding. Hulle koop diere om dié weiding te benut. Benewens die dalende mielieprys het lusernprys ook reeds van sowat R3 000/ton tot nagenoeg R1 900/ton gedaal.
Mnr. Tommie Moolman, mede-eienaar van Tomi’s Abattoir naby Hermon in die Wes-Kaap, sê hulle sukkel om genoeg diere in te koop om hul lamvoerkraal vol te hou. Weens die droogte en swakker weiding is hul aankope van diere in die algemeen sowat ’n maand agter.
“Lampryse het aansienlik gestyg in die jongste vyf tot ses maande – met 30% tot 40%. Dit kan grootliks aan die droogte in die Wes-, Suid-Kaap en dele van die Noord-Kaap toegeskryf word,” sê Moolman.
Groot ondervoorsiening
Die droogte veroorsaak ’n groot ondervoorsiening en beskikbaarheid van diere. Al word die droogte nou gebreek, gaan dit minstens ’n jaar of selfs twee duur voordat die situasie weer normaliseer.
Dr. Jasper Coetzee, veekundige en konsultant van Stellenbosch, sê die hoër lampryse op veilings maak dit vir voerkraaleienaars én boere moeiliker om diere in die hande te kry. Minder lammers is beskikbaar weens onder meer die droogte.
Volgens gerugte het skaapgetalle in die Wes-Kaap glo heelwat afgeneem weens die droogte en omdat meer boere van skaap- na gewasboerdery oorgeslaan het.