
Die notering van Rhodes Food Group Holdings, wat Handelsname soos Magpie, Bull Brand, Hazeldene, Portobello en Trout Hall bedryf, kan veral Wes-Kaapse vrugteboere bevoordeel omdat die groep uitbreidings van sy aanlegte beoog.
Mnr. Bruce Henderson, hoof uitvoerende beampte, sê die groep noteer om kapitaal te kry ten einde skuld te betaal en groei en uitbreiding te versnel.
Die plan is om hoofsaaklik die pakhuise en versendingsgeriewe van sy vrugte-inmaakfabrieke op Tulbagh en in Swaziland uit te brei om groter volumes vrugte te kan hanteer. Op Tulbagh word appelkose, perskes en pere ingelê.
Henderson sê Rhodes was suksesvol om nuwe markte vir hierdie produkte te ontgin en voorsien verdere groei.
Die maatskappy wil ook nuwe toerusting vir sy pasteifabriek in Johannesburg koop, wat sukkel om in die vraag te voorsien.
Die maatskappy het in 2010, met die verkryging van die SA inmaakbedrywighede van die Amerikaans gebaseerde Del Monte, sy volume verdubbel en sedertdien verder gegroei. China is sy grootste uitvoermark, terwyl Afrika ook goeie geleenthede bied.
Mnr. Anthony Clark,’n ontleder van Vunani Sekuriteite, sê dit is ongewoon dat ’n voedselmaatskappy op die JSE noteer, maar met sy groot uitvoermark en die groeiende internasionale vraag na vrugte is Rhodes in ’n goeie posisie om sy nisgroei voort te sit.