
Hoewel die SA Vuurwapen-Eienaarsvereniging (SAGA) enige poging verwelkom om onwettige vuurwapens uit die samelewing te verwyder, sê dié organisasie se voorsitter, mnr. John Welsh, die Regering moet eerder optree teen staatsagentskappe wat vuurwapens “verloor” as om wapen-eienaarskap vir wetsgehoorsame burgers te bemoeilik.
Welsh het gereageer op aankondigings dat die SA Polisiediens besig is met voorstelle vir verandering aan die wapenwet.
Dit is egter nog nie duidelik presies wat hierdie voorstelle behels nie. Die Polisieminister, mnr. Nathi Nhleko, het onlangs in die Parlement aangedui dat die wysigings tegnies van aard sal wees en gaan streef om skuiwergate toe te maak.
Welsh waarsku egter dat wapenbeheer wat wetsgehoorsame burgers die besit van vuurwapens ontsê, hulle net meer gaan blootlê. "Gewone mense het nie lyfwagte nie en baie van hulle kan nie alarmstelsels en gewapende reaksie-eenhede bekostig nie. Die polisie het ook nie die hulpbronne om by elke noodgeval teenwoordig te wees nie. Tydens 'n gewelddadige aanval is mense dus op hulself aangewese. Hul beste kans om so 'n aanval af te weer is as hulle toegang tot 'n vuurwapen het en opgelei is om dit te gebruik," sê Welsh.
"Ons moet eerder kyk waar die onwettige vuurwapens in omloop vandaan kom. Hoeveel van hierdie wapens is deur staatsinstansies soos die polisie en weermag 'verloor' of by hulle gesteel. Die polisie kan ook nie rekenskap gee vir al die vuurwapens wat ingehandig is tydens die Vuurwapenwet se amnestie-tydperk nie?"