Groot rivierbeddings in Afrika, Asië en Latyns-Amerika kan voedselproduksie in komende dekades verdubbel, sê waterkundiges.
Luidens ’n berig op News24.com het wetenskaplikes van 30 lande die afgelope vyf jaar rivierbeddings van sowat 13,5 vierkante kilometer in die armste dele van die wêreld bestudeer.
“Skaarstes bestaan in sekere omgewings, maar ons bevindinge dui aan dat die algemene probleem die gebrekkige gebruik van beskikbare waterbronne is,” sê mnr. Alain Vidal, direkteur van die uitdagingsprogram op water en voedsel, wat die verslag saamgestel het.
Politieke uitdaging
Volgens die verslag is kom die probleme in dié gebiede uiteindelik eerder op politieke mag neer as voorraadtekorte. Die feit dat verskeie bedrywe aanspraak maak op van dié waterbronne, soos vervaardigers, stede en kragsentrales, kan moontlik in die pad van ’n toename in voedselproduksie staan.
Mense in magsposisies ken in baie gebiede nie water proporsioneel toe nie, wat tot die probleme bydra. Mnr. Simon Cook, die leier van die studie, sê dít kan verander word sonder dat ’n waterkrisis ontstaan.
10% onder kapasiteit
Cook sê Afrika het die grootste potensiaal om sy voedselproduksie met behulp van rivierbeddings te verhoog. Dele van die vasteland se produksie is ten minste 10% onder vermoë, en in sommige dele van Afrika en Asië is produktiwiteit slegs 10% van wat dit kan wees.
Hy sê verbeterde toegang tot kunsmis, finansiering en markte sal ook tot verhoogde produksie bydra.
Die groep wetenskaplikes stel dialoog tussen alle watergebruikers voor as ’n werkbare oplossing.
Bron: News24.com
29 September 2011